Skuif nou jou View-Master/uitgeknipte vierkant oor die “e”-karakter. Deur verskillende posisies uit te toets, sny jy die karakter (e) op verskillende maniere. Kyk na ons drie voorbeelde hierbo. Jy sal ook oplet hoe positiewe en negatiewe ruimtes elke keer verander wanneer jy die vierkant beweeg. Kan jy sien hoe pragtig jy dieselfde karakter op verskillende maniere kan gebruik wanneer jy nie soveel op die letterlike betekenis konsentreer nie, maar eerder op die vorms, kurwes, negatiewe en positiewe ruimtes. Kyk wat gebeur wanneer jy dieselfde ding met ander karakters/letters probeer.
STAP2
Kom ons maak dit moeiliker en neem hierdie oefening na ’n volgende vlak! Kies enige enkele skrifkarakter – dit kan ’n letter of ’n syfer wees – en soek na verskillende voorbeelde van hierdie karakter in tydskrifte, ou foto’s of op verpakkings.
Let op dat alhoewel jy slegs een letter of syfer gebruik bv “b” of “4”, jy op die ou einde talle verskillende lettertipes/-style van dieselfde karakter gaan hê, en dit is presies wat ons wil hê. Gebruik jou View-Master op presies dieselfde manier as voorheen en kyk hoeveel interessante snitte jy kan identifiseer. As jou geknipte beelde verskillende groottes het, kan jy hulle oorteken of fotokopieer totdat hulle min of meer dieselde grootte het. Teken nou ’n stel van tien blokkies soos in ons voorbeeld van die “g”-karakter hieronder en rangskik jou verskillende blokkies met geknipte karakters op ’n visueel-aangename en gebalanseerde manier. Gee spesifiek aandag aan die positiewe en negatiewe ruimtes en hoe jy die oorkoepelende uitleg rangskik om hierdie balans te skep. Trek jou oë op skrefies terwyl jy dit doen, aangesien jy sal vind dat dit makliker is om blokkies raak te sien wat swaarder of ligter in gewig is as ander sodat jy dinge kan rondskuif om ’n visuele balans te skep. Staan terug en kyk na jou skepping. Kan jy ’n patroon/ritme na vore sien kom? ’n Mens begin op hierdie stadium die oorkoepelende patroon eerder as die individuele letter of syfer raaksien, selfs al herken jy nog die karakters in party van die blokkies. Onthou jy nog die Gestalt-teorie van Graad 10? Indien nie, kan dit ’n goeie idee wees om jou geheue te verfris, aangesien hierdie kennis jou baie met hierdie projek kan help.