Jy verstaan nou die beginsel van vereenvoudiging en die verwydering van alle detail uit ’n beeld sodat slegs die noodsaaklike, suiwer, eenvoudige en skoon boodskap oorbly. Jy moet nou drie voorbeelde van logo’s gaan soek waar jy dink hulle hierdie beginsels toegepas het. Kyk of jy logo’s kan kry wat nie-verteenwoordigend is (jy kan nie die motor of die berg ens. sien nie, maar , die idee van die spoed (die motor) of grootsheid (die berg) verstaan kan word deur die sterk simbool wat gebruik word. Ons het ’n voorbeeld ingesluit sodat jy kan sien wat vereis word. Gebruik die tabel wat verskaf word, of trek ’n nuwe tabel met die volgende kolomme op ’n vel papier. Die eerste kolom het ’n uitgeknipte voorbeeld of tekening van die logo, die tweede kolom bevat die interpretasie van die logo, met ander woorde jou begrip van wat die logo simboliseer. Die laaste kolom is jou ontleding van of jy dink dat dit ’n geslaagde logo is wat die maatskappy, produk of diens op die beste moontlike manier uitbeeld, asook jou ontleding van die stilering.
Voorbeeld
Wat interpreteer of verstaan jy? Hoe hou dit verband met kennis wat jy vooraf oor die onderneming, produk of diens het?
Die swoesj het ’n simbool van Nike geword, “die gevleuelde godin van oorwinning”, en is ’n “simbool van oorwinnings, die godin Nike wat oor die geskiedenis se vroegste slagvelde toesig gehou het ...wat die heldhaftigste en ridderlikste stryders aan die begin van die beskawing geïnspireer het, en ’n gevoel van oorwinning en mag gee (Nike). Die logo toon ’n element van vlugheid of beweging en maak ’n positiewe en elegante indruk. Dit is so herkenbaar dat die logo dikwels sonder die naam Nike gebruik word. Die handelsmerk word slegs aan die swoesj herken.
Dink jy dat dit slaag met wat dit probeer bereik; dink jy dat dit die boodskap uitdra soos dit moet? Laastens, hoe word die De Stijl-beginsels toegepas?
Die swoesj in Nike se logo onderskryf die beginsels van De Stijl, aangesien dit die gees van die gevleuelde godin beliggaam sonder enige fisiese verwysing na haar – daar is geen detail van enige aard nie. Die vlerke is tot hulle essensie vereenvoudig en alhoewel jy nie werklik kan sê dat die godin ooglopend in die ontwerp voorgestel word nie, kan jy maklik die idee van vlug of sweef daarin sien. Dit is genoeg van ’n voorstelling dat saam met die naam Nike, ons die idee van die gevleuelde godin kry. Op grond van hierdie voorstelling van die godin kan ons definitief sê dat inhoud teenwoordig is. Dit is dus nie net iets moois wat betekenisloos
is nie – dit het ’n
konsep en ’n boodskap! Die logo is baie geslaagd – dit is een van die herkenbaarste en waardevolste handelsmerke ter wêreld.