’n Curriculum Vitae (CV) verskaf ’n oorsig van ’n persoon se ervaring tot op daardie stadium in sy of haar lewe. In die meeste lande is die CV gewoonlik die eerste item wat ’n potensiële werkgewer oor die werksoeker sien en word dikwels gebruik om die aansoekers te sif voordat hulle vir ’n onderhoud genooi word. ’n CV kan ook ’n meer akkurate indruk skep wanneer jy vir ’n kursus by ’n tersiêre instelling aansoek doen, aangesien dit inligting kan bevat wat meer oor jou karakter sê as wat deur ’n formele aansoek oorgedra word.
Op hierdie stadium van jou lewe sal jou CV nie baie lank wees nie. Dit is iets wat sal groei en waarvan die inhoud sal toeneem namate jy deur jou lewe vorder en elke werk en prestasie byvoeg. Jy sal dit gou genoeg moet redigeer en slegs die belangrikste en mees onlangse prestasies en werk lys. Daar is geen regte manier om ’n CV op te stel nie. Dit is ’n dokument wat jy kan opstel deur jou persoonlike besonderhede en prestasies te lys soos jy goeddink, maar dit is raadsaam om verskillende formate en voorbeelde te soek om na te kyk voordat jy jou eie CV opstel. Namate jy in die lewe vorder en jou CV vir talle werksonderhoude gebruik, sal jy vind dat jy jou CV vir elke posisie waarvoor jy aansoek doen, kan aanpas.
10 PROJEK
Skryf jou CV en hou die volgende riglyne in gedagte. Watter inligting is belangrik wanneer ’n basiese CV opgestel word?
• ’n Titelbladsy, wat gewoonlik slegs jou naam en ID-nommer bevat. • Al jou persoonlike besonderhede. Die meeste CV’s begin hiermee, maar moenie onnodige inligting, soos jou kerkverband en jou troeteldiere se name, byvoeg vir die werk of instelling waarvoor jy aansoek doen nie.
• Opvoeding en kwalifikasies. Jy sal natuurlik jou akademiese skoolrekord insluit, maar jy kan ook sertifikate wat jy verwerf het vir kortkursusse soos noodhulp of fotografiekursusse insluit.
• Werkservaring. Die enigste werkservaring wat jy moontlik tot nou toe sal hê, sal tydelike werk oor vakansies of naweke wees. Dit is ook belangrik om dit hier te noem, aangesien dit toon dat jy graag wil werk en sê ook iets oor jou karakter as jy vir ’n geruime tyd dieselfde werk gehad het. Let op dat jy altyd jou werkservaring van die mees onlangse na die oudste moet lys. Maak dan seker dat jy jou prestasies en verantwoordelikhede teenoor elke rol/werk lys, met ander woorde wat het jou posbeskrywing ingesluit? Daar moet meer klem gelê word op die mees onlangse werk.
• Vaardighede. Sluit jou rekenaarvaardighede in en ook jou taalvlotheid, veral as jy meer as een taal kan praat. Wees spesifiek.
• Voeg enige ander onlangse opleiding/ontwikkeling in wat tersaaklik kan wees – jy was dalk gelukkig genoeg om ’n uitruilstudent te wees.
• Stokperdjies en belangstellings. Hou hierdie afdeling kort.