Rooiblou stoel deur Gerrit Rietveld ontwerp Die Rooiblou stoel is die mees kompakte visuele stelling van die De Stijl-beweging. Dit het ’n oop raamstruktuur met elke punt wat verder as sy voegpunt strek en die idee weerspieël dat dit in die ruimte voortgaan.
Die rugleuning is die enigste diagonale vlak, andersins is die stoel ’n perfek gebalanseerde komposisie van horisontale en vertikale lyne. Die pote lyk kort in vergelyking met die rug. Die raamwerk van die stoel is swart, met elke punt wat op ’n geel stuk eindig. Die sitplek is donkerblou en die rugkant rooi.
Die tekstuur van die oppervlakke is glad, soos met al die De Stijl-werke. Elke deel is uitgewerk om die res te balanseer.
Red Blue Chair ontwerp deur Gerrit Rietveld
Die stoel lyk egter swaar en ongemaklik om op te sit.
OMGEWINGSONTWERP
Schröder-huis in 1924 deur Gerrit Rietveld ontwerp Rietveld wou die huis aanvanklik uit beton bou, maar dit was te duur. Die fondamente en die balkonne is al wat uiteindelik van beton gemaak is. Die mure is van baksteen en pleister gebou. Die vensterrame, deure en vloere is uit hout gemaak en die vloere is met houtbalke gestut. Om die gebou te stut, is staalbalke met maasdraad gebruik.
Die huis was op twee vlakke en het fasades wat lyk of dit van ’n collage van vlakke en lyne gebou is. Die verskillende komponente (horisontale en vertikale lyne en vorms) is met opset los van mekaar, wat die idee skep dat alles verby mekaar gly. Dit het Rietfeld toegelaat om verskeie balkonne te skep. Net soos die Rooiblou stoel het elke komponent sy eie fatsoen, posisie en kleur. Die kleure is tipies van De Stijl en is gekies om die gladde kwaliteit van die fasades te versterk. Die oppervlakke is wit en skakerings van grys. Vir die venster- en deurrame is swart gekies en ’n aantal lineêre elemente is in die primêre kleure geverf.
Rietfeld het min onderskeid getref tussen binne- en buiteruimtes. Die reguit lyne en vlakke vloei van buite na binne met dieselfde kleurpalet en oppervlakke. Van die deure se handvatsels is swart gemaak, aangesien hy gevoel het dat dit andersins maklik sou vuil wys. Die binneruimte is oop en met skuifpanele.