Hier volg ’n paar dinge. Ontwerpers kan omgewingsensitief raak deur te spesifiseer dat ink met ’n plantbasis vir drukwerk gebruik word. Deur swaarmetaal-ink te vermy, verhoed ons dat dit op stortingsterreine en uiteindelik in ons drinkwater beland. Spesiale versierings op verpakking wat ’n produk net meer eksklusief en aanloklik laat lyk, is iets wat ons dalk kan vermy. Dinge soos die dun lagie metaal (foiling) wat by verpakking gevoeg word, of vernis (varnishing) wat verpakking en ander gedrukte items ’n glanslagie gee, is voorbeelde van die talle spesiale effekte wat uiteindelik verhoed dat verpakking degradeer of herwin kan word en die produk op die opvullingsterrein laat beland.
In ons land, waar verpakking dikwels as brandstof gebruik word (selfs soms binnenshuis), is dit selfs gevaarliker, aangesien die verbranding van hierdie verpakkingsmateriaal of papier skadelike dampe afgee as gevolg van die spesiale effekte en vernis, en dit kan groot gesondheidsprobleme veroorsaak vir dié wat dit inasem. Ons kan dus mense aanmoedig om bestaande verpakking te herwin of hergebruik, of om kreatief te raak en begin om weggooi-items in iets nuttigs te omskep (herskepping) om te keer dat dit op die ashoop beland. Dit is skokkend om te besef dat amper elke stuk plastiek was al ooit deur die mens gemaak is, nog êrens op hierdie planeet is! Dit is vanselfsprekend dat as ons enigiets wat potensieel gevaarlik of besoedelend is, kan hergebruik, herwin of herskep, dit ons plig is om dit te doen.
Die hoeveelheid afval wat op opvullingsterreine in Kaapstad beland het, het in slegs vyf jaar (1999 – 2004) met 43% toegeneem. Elke persoon het in 2004 gemiddeld daagliks 1,8 kilogram (660 kg per jaar) vullis weggegooi. Die probleem neem oral in ons land toe.
Ons moet almal die hoeveelheid afval wat ons produseer, verminder, aangesien weggooiruimte ernstig beperk is. Een manier om ’n geweldige bydrae te maak, is om op te hou om goedkoop goed te koop wat ontwerp is om net ’n rukkie te hou sodat jy gedwing word om aan te hou om tweederangse goedere te koop. Jy mors uiteindelik net geld. Daardie produkte is ontwerp om te breek om ’n vraag na nog van daardie produk te skep. As ons tot ’n meer volhoubare lewenstyl wil bydra, sal ons soek na produkte wat goed ontwerp is en lank kan hou sodat ons nie nodig het om dit te vervang en hierdie nievolhoubare wêreld verder vernietig nie. Dit beteken dat ons moet verminder wat ons verbruik, items herstel en afval herwin.
Kom ons kyk na twee baie inspirerende ontwerpleiers en hoedat hulle probeer om ontwerp ’n verantwoordelike asook bemagtigende loopbaankeuse te maak.
IN DIE WOORDE VAN DAVIDBERMAN: “In hierdie tyd van ongekende omgewings-, sosiale en ekonomiese krisisse, kan ontwerpers kies waaraan hulle jong beroep aandag moet gee: die skep van misleiding wat meer verbruik aanmoedig, of help om die wêreld te herstel.”
DAVID BERMAN
David Berman is ’n Kanadese ontwerper met meer as 25 jaar se ervaring in ontwerp en kommunikasie en ’n groot passie vir ’n volhoubare benadering tot die praktyk sowel as die verbruik van ontwerp. Watter ontwerprigting jy ookal wil volg, of selfs al doen jy dit nie, sy filosofie oor ontwerp en hoe ons daarmee omgaan, is werklik belangrik. David het sedert 1984 gewerk om ’n etiese kode te vestig wat maatskaplike verantwoordelikheid vir gesertifiseerde ontwerpers regdeur Kanada bepleit en die eerste konsep is in Mei 2000 bekragtig. Hy is sedert 2002 die nasionale voorsitter vir Etiek in grafiese ontwerp in Kanada. David is in November 2005 verkies op die raad van Icograda, die wêreldliggaam vir grafiese ontwerp en