As gevolg van die gebruik van materiale en stylstrukture was die geboue te duur om in die winter te verhit en in die somer te verkoel.
Die konstruksie was ook ’n gesondheidsgevaar, aangesien die materiale nie voldoende getoets is voor gebruik nie. Dit het geen spesifieke fasade gehad nie en was te rigied en reëlmatig van voorkoms met min estetiese aantrekkingskrag vir die algemene publiek. Dit was oor die algemeen ’n sosiale en kulturele mislukking, aangesien die stede soos ’n “betonoerwoud” gelyk het en waarin die inwoners geïsoleer gevoel het.
Die ontwerpers was uitvinders wat ons die geleentheid gegee het om die voordele van hulle briljante uitvindings te benut. Hulle het nuwe tegnieke, metodes en materiaaltegnologie ingebring wat die wêreld vir ewig verander het. Ten spyte van die nadele het dit die manier verander waarop mense na ontwerp en produkontwikkeling gekyk het. Dit maak dit makliker om op verdere ontwikkeling te verbeter en die pad vir nuwe uitvindings oop te maak. Een van die faktore wat beter ontwerpe kan skep, is om die ontwerpe van die verlede te ken en uit die foute te leer. Dit is een rede waarom die kennis van die geskiedenis van ontwerp so waardevol is as jy ’n goeie ontwerper wil word. Moet dus nie jou fokus verloor nie!
1 PROJEK
Maak in jou werkboek jou eie opsomming van die betekenis van die volgende frases:
Vorm-volg-funksie Minder-is-meer
Getrouheid-aan-materiale Verduidelik hoe hierdie frases op die visuele bronne hieronder – A, B en C gemerk – van toepassing is. Gebruik asseblief volsinne.