Twee wonderlike voorbeelde van persoonlike of vervaardigde ABC-tipografie volg hieronder. Natuurlik kan hierdie voorbeelde te gevorderd wees vir sommige, maar as jy belangstel om jou produk ’n stappie verder te neem, is jy welkom om hierdie voorbeelde as inspirasie te gebruik om jou eie lettertipe te ontwerp wat die woord wat jy gekies het, te vergestalt. Let asseblief op dat jy waarskynlik gebruik sal moet maak van fotografie om die aanvanklike styl vir hierdie lettertipe te dokumenteer en te bou. ’n Ander manier sou wees om gebruik te maak van ’n collage waar jy dit op een of ander manier regkry om al hierdie kitsklaar of gevonde voorwerpe op ’n plat oppervlak in die vorm of styl van jou voorgestelde lettertipe te kombineer en te plak.
Die Hollandse grafiese ontwerper Yvette Yang ontwerp “Fashion Fonts” – letterkasse wat die kombinasie en integrasie van modebeelde uit verskillende modetydskrifte ten toon stel. Sedert 2007 het sy twee stelle “Fashion Fonts” per jaar ontwerp om by elke seisoen te pas. Tot op hede het sy vyf stelle in haar versameling. Vir hierdie tipe tegniek moet jy die geneemde foto’s uitsny, hulle op ’n ander manier weer aanmekaar heg en foto’s van die eindproduk neem.