Die 19de eeu was ’n eeu van groot verandering, aangesien dit die tyd van die Industriële Revolusie was. Die eerste stoomtreine het begin loop, die eerste stoomskip het in 1838 oor die Atlantiese Oseaan gevaar; die telefoon en die gloeilamp is gepatenteer. Dit was ook ’n tyd van talle oorloë, soos die Amerikaanse Burgeroorlog en die Anglo-Boereoorlog. Mense het van landelike areas na stede beweeg om werk te soek in fabrieke, waar die masjien die handgemaakte items van vroeër vervang het.
Die sosiale status van vroue het gedurende die 19de eeu verander. Hulle het meer regte verkry en die aktiwiteite waaraan vroue deelgeneem het, het meer geword.
AKTIWITEIT 1
Doen die volgende in jou werkboek: Skep jou eie prettige kleurpalette
Terwyl jy aan die volgende eienskappe van elke beweging bekend gestel word, stip die eienskappe asook die kleure aan wat baie tipies van hierdie beweging was. Gebruik dan hierdie inligting om kleurpalette vir elke beweging saam te stel. Van julle sal moontlik die nodigheid insien om meer as een palet per beweging te maak. Dit word heeltemal aan die individu se interpretasie oorgelaat. Jy kan dit ook oorweeg om ’n toepaslike titel vir elke palet te kies. As jy dit doen, moenie vergeet om te dink aan die styl van die letterbeeld wat jy gaan gebruik nie. Die gekose styl moet die styl van die beweging versterk en ook dit wat jy besluit om as geheel aan te bied.
Jy kan jou eie kleurblokke maak deur toepaslike kleure uit tydskrifte te knip, of jy kan kleurblokke kry by enige hardewarewinkel wat Plascon- en Dulux-verf verkoop. Jy kan die kleurpalette gebruik as waardevolle verwysing wanneer jy ’n praktiese projek doen wat op enige van hierdie bewegings gegrond is. Jy sal aan die begin van elke beweging daaraan herinner word.
Jy kan dit gebruik as waardevolle verwysing wanneer jy praktiese projekte doen wat geïnspireer is deur enige van die bewegings wat jy in graad 11 gaan teëkom. Ons herhinner jou weer later hieraan.