Die regisseur (in hierdie geval jou onderwyser!) het die belangrikheid van die advertering en bemarking van ’n teaterproduksie beklemtoon en gevra dat ’n plakkaat as die gekose bemarkingsmiddel ontwerp moet word.
Hy/sy het spesifiek gesê dat jy vir die styl van die plakkaatontwerp gebruik moet maak van ’n styl of beweging waarvan jy in die teorie geleer het, byvoorbeeld Kuns en Handwerk OF Art Nouveau OF Bauhaus OF Art Deco.
Die opdrag van die regisseur stel ook voor dat jy visuele elemente versamel van die argitektuur van geboue wat in daardie tyd die meeste gesien is, en van die bekendste aktrises of sangers of dansers van die tyd. Wanneer jy al jou prente versamel het, kies jy dié wat die toepaslikste is om te teken. Jy kan selfs die gesigte van die akteurs en/of aktrises wat jy gekry het met portrettekeninge van werklike mense soos dié van jou klasmaats vervang. Hierdie tekeninge word nou gebruik om ’n fotomontage te skep voordat jy jou finale tekening vir die plakkaat maak. Die doel hiervan is om die ontwerp of komposisionele uitleg te finaliseer voordat jy die plakkaat begin teken.