Die Egiptiese beskawing strek van 3150 – 322 v.C. Alhoewel daar talle verskillende rondtrekkende stamme was wat vanaf ongeveer 5000 v.C. begin het om hulle langs die Nyl te vestig, klassifiseer ons die begin van die Egiptiese beskawing as c. 3150 v.C., aangesien dit toe is dat koning Namer Egipte onder een regering verenig het en ’n enkele kultuur gevestig is. Die vereniging van Egipte onder koning Namer het op ’n stabiele regeringstelsel uitgeloop wat die godsdiens van die konings aangehang het. Koning Namer was die eerste koning wat die “dubbele kroon” van Egipte gedra het. Voordat Egipte verenig is, was dit in Bo-Egipte en Onder- Egipte verdeel. Die simbool van Bo-Egipte was die lotusblom en die simbool van mag was die wit kroon. In Onder-Egipte was die rooi kroon die simbool van mag en die papirusplant het die streek verteenwoordig. Koning Namer het die twee krone verenig en dit het die visuele simbool van ’n nuwe verenigde streek geword asook van die totale beheer van die koning wat die Farao genoem is en dit gedra het.
Kode van Hammurabi – boonste detail: Aan die bopunt van die stele is ’n pragtige uitgekerfde beeld van koning Hammurabi en die god, Shamash.
Evolusie van die alfabet: Die Egiptiese stelsel, hiërogliewe, is op die piktografiese voorstelling van elemente in die werklike wêreld gegrond. Regdeur die volgende 2 000 jaar sou verskeie stelsels die ontwikkeling van skrif beïnvloed deur te verander hoe die simbole lyk en hoe dit gebruik word.
Antieke Egipte en Mesopotamië stem op baie maniere ooreen. Albei beskawings het rondom ’n lewegewende rivier ontstaan – in Mesopotamië was dit die Tigris- en die Eufraatrivier en in Egipte die magtige Nyl. Hierdie riviere het toegelaat dat die vroeë mens kon wegbeweeg van die nomadiese jaggewoontes na meer gevestigde leefstyle. As gevolg van die ontwikkeling van besproeiingstelsels was dit moontlik om landbou te ontwikkel en vee aan te hou. Die klimaat van hierdie streke was ook dieselfde en albei beskawings het voor dieselfde uitdagings te staan gekom met strawwe klimaatstoestande en die vrees vir droogte en voedseltekorte wat woestynstreke tot gevolg het. Een van die belangrikste verskille tussen Egipte en Mesopotamië was hoe die sosiale struktuur van hierdie vroeë beskawings ontwikkel het. In Mesopotamië het die bewaakte stadstate hulle meestal self regeer en dikwels teen mekaar oorlog verklaar. Die verskillende regeerders en eras van die Mesopotamiese beskawing weerspieël die onstabiele maatskaplike struktuur en mededingende aard van die inwoners van die stadstate. In Egipte het die beskawing onder een heerser ontwikkel. Die regering deur ’n enkele persoon het aan Egipte ’n meer stabiele maatskaplike basis gegee en in plaas daarvan dat hulle soos die Mesopotamiërs onder mekaar baklei het, het die Egiptenare gefokus op ’n enkele weermag, asook om hulle kuns, wetenskap, boutegnieke en landbou te ontwikkel.