HETJYGEWEETDie Suid-Afrikaans-gebore Allan MacLeod Cormack het as Amerikaanse fisikus gepraktiseer en het in 1979 die Nobelprys in Fisiologie of Medisyne vir sy werk oor X-straal- rekenaartomografie (RT) ontvang.
Geskiedkundige konteks
Modernisme het ontwikkel uit die idees van die Bauhaus, wat na Amerika beweeg het toe Bauhaus- ontwerpers soos Van der Rohe gedurende die Tweede Wêreldoorlog na Amerika gevlug het. Die term modernisme sluit gewoonlik die aktiwiteite en uitsette in van dié wat gevoel het dat “tradisionele” vorms van kuns, argitektuur, literatuur, geloof, maatskaplike organisasie en die daaglikse lewe uitgedien begin raak in die nuwe, moderne ekonomiese, maatskaplike en politieke toestande van ’n ontluikende en heeltemal geïndustrialiseerde wêreld.
Hoewel die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 vrede gebring het, het dit nie onmiddellik die vooroorlogse vlakke van vraag en aanbod na goedere herstel nie. Europa het ietwat langer geneem om te herstel as Amerika – in sommige gevalle tot in die 1950s. Lande het gedurende die 1960s en vroeë 1970s ’n ekonomiese opbloei ervaar. Die oorgang van die formele 1950s tot die hedonistiese of gemaksugtige en plesiersoekende, wilde 1960s het in ’n baie kort tyd die heersende modes op hulle koppe omgekeer. Onder die bekende persoonlikhede wat karakter aan hierdie tydperk verleen het en wat ’n mate van invloed op die tendense van daardie tyd gehad het, was James Dean, Marilyn Monroe, Audrey Hepburn, Coco Chanel en die Franse filosoof, Jean Paul Sartre.
Die nuwe wetenskaplike ontdekkings het talle van die nuwe ontwikkelings geïnspireer. Talle nuwe produkte is in die 1950s uitgevind, soos die blêrkas (jukebox). In hierdie tyd het ruk-en-rol-musiek baie gewild geword en die uitvinding van die blêrkas het dit makliker gemaak om na hierdie musiekstyl te luister. In produkontwerp en argitektuur het hulle die idee gevolg van ’n frase wat Van der Rohe gebruik het: “MINDER IS MEER” en “GETROU AAN MATERIALE” Dit beteken dat hulle die Bauhaus-ideale gevolg het wat voorgestel het dat materiale vir hulle eie spesifieke eienskappe gebruik moes word en nie met versierings bedek word nie. Minder is meer het beteken dat skoon lyne en vorm sonder onnodige detail verkies is. ’n Fatsoen moes op sy eie kon staan sonder die steun van ekstra detail, dus het voorwerpe en argitektuur ’n baie minimalistiese kwaliteit gehad.