Dit is van die uiterste belang dat jy soveel inligting as moontlik oor die loopbaan het voordat jy daarmee wegval. Daar is al gesê dat jou loopbaankeuse een van die drie belangrikste besluite sal wees wat jy in jou lewe maak (die ander twee is jou lewensmaat en die keuse van jou matras omdat jy elke dag ongeveer 7 tot 8 uur daarop deurbring!) Dit is dus uiters belangrik en beslis een van die keuses wat jou lewe kan verander. ’n Groot persentasie studente wat vandag aan tersiêre instellings studeer, besef halfpad deur hulle eerste jaar dat hulle die verkeerde keuse gemaak het. Dit is ’n baie duur fout, en dan dink ’n mens nie eers aan die tyd wat verlore is nie. Die meeste van hierdie studente stem saam dat die gebrek aan inligting en te min navorsing oor hulle keuse van loopbaan die rede vir die verkeerde besluit was.
Om jou te help om die geleenthede ten beste te benut en om meer oor ’n loopbaan uit te vind, gaan ons jou op ’n uitstappie stuur met die opdrag om ’n onderhoud te voer met iemand wat reeds in die beroep staan wat jy wil volg. Talle leerders is baie skaam om vrae te vra aan of onderhoude te voer met mense wat hulle nie ken nie, maar as jy hierdie oefening doen, sal jy selfvertroue kry en hopelik aanhou om meer uit te vind tot tyd en wyl jy gereed is ’n hierdie belangrike besluit te neem. As jy nie vra nie, hoe sal jy ooit weet?
11 PROJEK
Jy moet ’n uitstappie reël waar jy ’n onderhoud gaan voer met iemand wat die loopbaan volg wat jy oorweeg. As jy gelukkig genoeg was om ’n ateljee of agentskap in oefening 5 te besoek, kan jy vir hierdie projek gebruik maak van die inligting wat jy op daardie stadium versamel het. Jou uitstappie kan enige plek wees waar ’n ontwerpverwante of handwerkproduk gemaak of verkoop word, solank jy hierdie geleentheid gebruik om ondersoek in te stel na die loopbaan waarin jy belangstel. Hierdie plekke kan vlooimarkte, handwerk- werkswinkels, juweliers, argiteksfirmas, binnenshuise versierders, industriële ontwerp en produkontwerpateljees, asook mode- en meubelateljees en selfs tekstieldrukmaatskappye insluit. Kies noukeurig sodat jy werklik by hierdie ervaring baat kan vind om jou uiteindelik te help om ’n ingeligte keuse te maak wanneer jy ’n loopbaan of kursus moet kies.
Algemene wenke vir die voer van ’n onderhoud: • Wees voorbereid! • Begin elke onderhoud deur jouself bekend te stel en te verduidelik waarom jy met die persoon ’n onderhoud wil voer.
• Praat duidelik en maak seker dat die persoon jou kan hoor. • Jy kan seker maak dat jy die persoon se aandag behou deur gereeld sy/haar naam te gebruik.