Dit sal goed wees om te kyk hoe hierdie ontwerpelemente toegepas is. Kyk na die “Elemente van Ontwerp” in jou Graad 10-boek. Ontleed ’n paar geboue in die klas en verduidelik hoe dit gebruik is om perfekte balans te skep.
• Geboue het plat dakke gehad, sonder ’n lys. Beton kon in enige vorm gegiet word, soos die dak van die Sydney-operahuis.
• Hulle het veelverdieping-geboue geskep wat wolkekrabbers genoem is. Hierdie hoë geboue het naby mekaar gestaan, amper soos hoë bome, en dit word steeds ’n betonoerwoud genoem.
• Aangesien voorafvervaardigde eenhede gebruik is, is geboue vinnig opgerig. • Gewapende beton, versterkte glas, vrydraende vloere en -balkonne, ’n skeletstruktuur met dun mure en baie ligte materiaal vir binnemure is gebruik.
• Die binneruimtes was ’n weerspieëling van aaneenlopende ruimtes.
Kom ons kyk van naderby hoe hierdie eienskappe in die spesifieke kreatiewe dissiplines gemanifesteer het.
KOMMUNIKASIE-ONTWERP
Die ontwerper het in hierdie plakkaat (regs) gebruik gemaak van eenvoudige sirkels en reguit lyne. Die fokuspunt is uitmiddelpuntig in ’n stortkop vol tekstuur geplaas.
Dit kom voor of al die lyne vanuit die middel van die sirkel na buite stroom. Die sirkel is omring deur ’n groter sirkel en kleiner sirkels wat uitwaarts spiraal en ’n dinamiese komposisie skep. Die negatiewe ruimtes tussen die sirkels varieer in tonale waardes van grys, gebalanseer met ’n bruinerige kleur in die middel wat die groter wit sirkel oorvleuel.
Dit is ’n goeie voorbeeld van die toepassing van die Gestalt-beginsel van kontinuïteit, aangesien dit lyk asof die plakkaat uit ’n groter stuk geknip is waarvandaan die sirkels uitstroom. In die derde sirkel van die middel af laat die kronkelende liggrys lyne dit lyk asof lig daar deurfilter. Diagonale lyne projekteer na die hoeke en eindig in swart sirkels. Die naam Triga is in wit font bo in die linkerhoek geskryf. Dieselfde font kom aan die onderkant in swart in ’n horisontale band voor.
Die balans is asimmetries, aangesien die fokuspunt uitmiddelpuntig is, met meer sirkels wat regs voorkom.
Daar is minimale gebruik van kleur, soos grys, swart en wit en ’n klein bietjie bruinerige beige/oker.
Dieselfde elemente is regdeur die plakkaat herhaal om harmonie en balans te skep.
Plakkaat-illustrasie in 1958 deur Eric Nitche vir Triga, General Atomic-ontwerp