Modernisme is die gevolg van ’n samelewing wat groot ideale en hoop vir die toekoms het – ’n soort utopiese onderbou vir die breë samelewing. Die ontwikkeling van die jongste tegnologie en nuwe en opwindende materiale, asook hoe om dit in produksie te gebruik, het nuwe drome van ’n ideale samelewing laat opvlam. Hulle het hulle geskiedkundige verlede ontken en hoop gehad vir ’n nuwe toekoms, waar elke persoon sy of haar potensiaal kon uitleef. Hierdie droom kon ongelukkig nie standhou nie. Modernisme het altyd al hoe meer kritiek van opkomende geslagte ontwerpers, argitekte en kunstenaars gekry. Hulle het gevoel dat die abstrakte ontwerpwoordeskat wat sy wortels in die vroeë dekades van die 20ste eeu gehad het, in die nuwe era van spoed en drastiese verandering met TV en ander radikale tegnologiese vooruitgang, irrelevant geword het. Hulle is geïnspireer deur die lewendige beweging van Postmodernisme en het daar hulle uitdrukking gevind. Geld het al hoe belangriker geword en die sosiaal-demokratiese ideologie was aan die verkrummel. Modernisme was heeltemal daardeur ontnugter – die oorloë, verbruikersbewustheid en die feit dat die jonger geslag hulle idees van wetenskap, universele waardes, organisasie, objektiwiteit, eenvoud, elegansie, beginsels, oorsaak en gevolg verwerp het. Ons het vandag ook talle ideologieë. Volgens die Handboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde Uitgawe is ’n ideologie “idee(s) wat die grondslag vorm van ’n politieke of ekonomiese stelsel, veral sulke idees wat tot starheid en onversetlikheid van denke of optrede lei”.
JOU PROJEK
Ontwerp ’n plakkaat in enige medium om jou mening oor een van die volgende ideologieë te illustreer: GLOBALISME | FEMINISME| MULTIKULTURALISME | EKOLOGISME | KAPITALISME
Soek die definisies vir al bogenoemde ideologieë. Wanneer jy almal verstaan, besluit om enigeen as onderwerp vir jou plakkaat te gebruik. Jou mening oor die ideologie kan positief of negatief wees, met ander woorde jy kan daardeur geïnspireer wees of ontnugter, maar jou standpunt moet duidelik na vore kom in die manier waarop jy deur jou plakkaat kommunikeer. Jy kan enige medium of kombinasie van media gebruik en jou plakkaat moet ten minste ’n A3-formaat hê. Die naam van die ideologie moet êrens op jou plakkaat verskyn, maar probeer om dit by jou ontwerp te integreer en dit nie net as ’n nagedagte bo- op te plak nie.
Gee jou plakkaat netjies en goed uitgevoer in – as jy collage of fotomontage gebruik het en steeds wil seker maak dat dit netjies lyk, mag jy ’n kleurkopieerder gebruik om ’n finale afdruk te maak, maar dit is heeltemal opsioneel.
Hierdie onuitwisbare beeld maak die kunstenaar se siening van globalisering baie duidelik. Jou mening hoef beslis nie haar mening te onderskryf nie.