Kan julle dink aan situasies waar ’n spesifieke kleur klante kan beïnvloed om ’n seker produk op die rak te koop of nie? Maak ’n paar voorbeelde bymekaar en lê die scenario vir die klas voor. Dit kan ’n goeie idee wees om ’n paar werklike voorbeelde klas toe te bring, of jy kan ’n paar advertensies gebruik wat jy in tydskrifte of selfs in die koerant kry.
?
HETJYGEWEET Kleure het in werklikheid ’n uitwerking op iemand se emosionele toestand of kognitiewe vermoë. Dit is bewys deur talle navorsingstudies wat op kinders gedoen is. Volgens die navorsing verhoog pienk ’n mens se eetlus en kalmeer gevangenes.
Is julle bewus daarvan dat kleure verskillende simboliese betekenisse (en nie almal positief nie) in verskillende lande en kulture kan hê? ’n Ontwerper moet dus bewus wees hiervan voor hy/sy ’n ontwerp in ’n ander land bemark. Raadpleeg weer julle graad 10-handboek om julle geheue oor die simboliese gebruik van kleur te verfris.
Bespreek in julle groepe die belangrikheid van kleur en julle idees oor sekere kleure. Sekere kleure kan presies reg wees vir spesifieke produkte en ’n ramp vir ander. Kyk of julle voorbeelde kan kry en bespreek dit in julle groep en deel dit dan met die res van die klas.
Kan julle sekere kleure met sekere emosies en geure assosieer? Julle moet dalk ’n bietjie navorsing doen om julle bespreking rakende hierdie kwessie te motiveer. Dalk weereens ’n goeie idee om julle Graad 10-handboek te raadpleeg en die geheue te verfris.
Al ooit opgelet watter kleure die meeste in restaurante gebruik word en waarom? Kyk of julle kan uitvind wat op hierdie gebied aan die kook is!
TEKSTIELSTOWWE
Studente het onder die leiding van die ontwerper en wewer Gunta Stölzl (1897–1983) abstrakte tekstielstowwe geskep wat toepaslik was vir gebruik in Bauhaus-ontwerpte omgewings.
Alle vroue het goeie basiese opleiding gehad by meesterkunstenaars en -ambagsmanne wat bekend was vir hulle weefvaardighede van hoë gehalte.
Die weefwerkswinkel het eksperimente met verskillende garings en kleurstowwe, sowel as verskillende materiale aangemoedig.