Die plakkaat is deel van die groter veldtog wat daarop gemik was om mense bewus te maak van werkstoestande en uitbuiting. Die veldtog was geslaagd en het ’n enorme impak op die Suid- Afrikaanse ekonomie gehad. Die plakkaat beeld uit wat ons veronderstel die arms van werkers en ondersteuners wat pikke en bakstene dra is, en ’n vlag wat die titel of oproep tot aksie vertoon. Die illustrasie is hoogs gestileerd en die tipografie is weer eens sans serif-hoofletters. ’n Sterk visuele kenmerk in talle weerstandsplakkate is die idee van “die menigte” eerder as die individu. Hierdie konsep word duidelik in albei die VDF se plakkate deur die gebruik van baie figure vertoon. Deur voor te gee dat die kyker saam met die ander sal protesteer, boikot en veg, word die kyker verseker dat hulle deel sal wees van ’n gemeenskap en dat talle ander hulle sienings en verwagtings deel. Die “Support Sharpeville Six”-plakkaat steun op die konsep van die gemeenskap en roep die kyker tot aksie op om beswaar te maak teen die doodstraf van ses protesteerders wat verkeerdelik skuldig bevind is dat hulle die onderburgemeester van Sharpeville, KJ Dlamini, vermoor het. Die beelding in die plakkaat skep ’n driehoekige komposisie met teks aan die bo- en onderkant wat die beeld omraam. Die frase “We Will Not Allow Them to Hang!” is bygevoeg met ’n informele styl wat soos handskrif lyk.
SA Resistance - Sharpville: Hierdie plakkaat was ’n oproep tot steun. Die plakkaat beeld die persone uit wat verkeerdelik skuldig bevind is aan die moord op KJ Dlamini en vra die kyker om beswaar te maak en teen hulle doodstraf protes aan te teken.
Die beginsels van tipografie soos ons dit vandag ken
Óf die boodskap spesifiek vir ’n paar individue geskep word, of geskep word om universeel te wees, dit moet toepaslik wees. Begrip van die elemente van ontwerp en hoe dit gebruik kan word om verskillende betekenisse te produseer, is ’n baie belangrike vaardigheid vir ’n ontwerper. Die keuse van ’n medium soos die illustrasie vir ’n plakkaat kan ’n magtige instrument wees om die kyker te bereik. Daar is egter so baie verskillende vorms van illustrasie dat ’n ontwerper presies moet verstaan wat oorgedra moet word om ’n toepaslike styl te kan kies.
Tipografie is ’n belangrike aspek wat werklik die sukses van ’n ontwerp kan beïnvloed. Het die ontwerper ’n lettertipe gekies wat die konsep steun, is dit leesbaar, is die plasing van die teks toepaslik en – die heel belangrikste – help die tipografie om die boodskap meer geloofwaardig te maak?
As jong ontwerper moet jy krities bewus raak van die wêreld om jou en die visuele boodskappe wat daardie wêreld vul. Jy moet jouself in die wêreld van beelde, tipografie, argitektuur, grafiese ontwerp, mode, fotografie en al die ander kreatiewe gebiede verdiep, aangesien ontwerp die wêreld waarin ons leef, vorm.
JOHNHESKETTIN SY BOEK ‘DESIGN:‘A Very Short
Introduction’ sê: (2005, Oxford University Press) “Ontwerp is een van die basiese kenmerke van wat dit is om ’n mens te wees, en ’n noodsaaklike bepaler van die kwaliteit van die menslike lewe. Dit beïnvloed almal in elke detail van elke aspek van wat hulle elke dag doen. Dit maak daarom geweldig baie saak.”