Lascaux a + b: Verskillende wilde diere word in ryk rooi, bruin en swart op die mure van die Lascaux-grotte uitgebeeld.
Lascaux c: Dramatiese groot ruimtes met honderde figure en diere, soos die Bulle-grot in
Lascaux, gee aan die moderne samelewing ’n kykie in die vroeë geskiedenis toe tekeninge die enigste wyse van visuele kommunikasie was.
In die beroemde Bulle-grot is die vier imposantste bulle met ’n swart buitelyn geteken. Om die hoofbulle is ’n groot aantal effens kleiner bulle en perde wat op so ’n wyse geteken is dat dit lyk asof hulle teen die kant van die muur langs hardloop. Oor die doel van vroeë grottekeninge word steeds gedebatteer, aangesien wetenskaplikes en *argeoloë probeer uitvind wat hierdie beelde vir die mense van daardie tyd beteken het. Talle glo dat die tekeninge ’n deel was van ’n “magiese” rite om mag oor sekere diere te verkry en sodoende ’n goeie jagtog te verseker, maar ander glo dat hierdie tekeninge ’n onderrigmiddel was om jonger lede van die gemeenskap vir die jag voor te berei. Alhoewel ons nie met sekerheid kan sê wat die prehistoriese mens se bedoeling met hierdie tekeninge was nie, verteenwoordig hulle die eerste tree tot die ontwikkeling van ’n standaard-alfabet.
*
’n Argeoloog is iemand wat die geskiedenis van die lewe en die kultuur van die mens bestudeer deur na antieke artefakte soos erdewerk, gereedskap en skilderye, en ander wesenlike bewyse te kyk.