• Skryfvaardighede: In die vorige module is julle gevra om navorsing oor die rol van ’n kopieskrywer te doen. Julle sal hier al die verskillende aspekte wat ’n kopieskrywer moet dek, kan toepas. Dit sluit vanselfsprekende inligting in soos brosjures, plakkate of advertensies wat uiteindelik bemarkingsmiddels kan word. Dan is daar ook dinge waaraan ’n mens nie sommer dink nie, soos om persvrystellings te skryf wat die nuwe produk/reeks produkte kan bekendstel en die publiek moontlik kan aanmoedig om ’n bekendstelling by te woon. Dit kan in die plaaslike koerant of op enige ander mediaplatform soos Facebook gepubliseer word. Daar is ’n groot hoeveelheid teks wat enige veldtog vergesel – dit kan julle verras, of ’n wonderlike geleentheid wees! As julle verpakking insluit, onthou dat dit ook ’n oppervlakte is waar julle kreatiewe skryfwerk en belangrike inligting oor die produk kan insluit. Dit kan agtergrond oor die produk, hoe om dit te gebruik, of veiligheidsinstruksies insluit. Onthou om die persoon met die skryfvaardighede as julle kopieskrywer in te sluit. Kopieskrywers speel ’n geweldige belangrike rol in die sukses van ’n produk. Dink aan al julle gunsteling-advertensies – slim bewoording en treffrases kan julle teikenmark se aandag kry.
• Dalk wil jy die ontwerper van die verpakking wees en hierdie projek sal aan jou die geleentheid gee om oor hierdie proses navorsing te doen.
• Dalk is jy ’n ywerige fotograaf of filmmaker en wil jy die hele proses dokumenteer. Jy kan dan die logistiek ondersoek van die versameling van materiaal, die produksielyn as daar een is, en die verskillende markte waar die produk uiteindelik verkoop moet word. ’n Kort film oor die proses kan gebruik word as dokumentêr wat uiteindelik ook as bemarkingsmiddel gebruik kan word. Hierdie persoon moet weer eens met die kopieskrywer saamwerk as hulle ’n teks en klank wil gebruik.
• Maak van die werklike produk – afhangend van die kompleksiteit van hierdie produk en/of die verskillende prosesse wat by die produksieproses betrokke is, kan julle meer as een persoon by die verskillende stadiums nodig hê. Julle groep sal egter daaroor moet besluit.
• As jy werklik goed kan teken, kan jy daaraan dink om die produksietekeninge te doen.
• ’n Webwerfontwerper kan ’n klein webwerf maak waar julle die produk kan bekendstel en kontakbesonderhede kan gee.
• Daar is talle ander rolle om in te sluit en elke projek sal ’n ander struktuur van mense hê om hulle produk te pas.