Dit beteken dat ons aan die toekoms moet dink en na die werklike probleme in die wêreld moet kyk en hulle op ’n ekologies-verantwoordelike en doeltreffende manier moet oplos. Die beste manier om dit te doen, is met behulp van die belanghebbers, die mense wat in werklikheid deur die ontwerpprobleem en sy potensiële oplossings geraak word – hulle is tog die mense wat die produk gaan gebruik! Dit is direk in teenstelling met vandag se praktyk van ’n winsgedrewe ontwerp (deur enigiets te verkoop solank dit geld maak) wat opsetlike onduursaamheid (jy moet dit weggooi wanneer jy daarmee klaar is, of wanneer dit breek, is dit goedkoper om ’n ander een te koop as om dit reg te maak!) gebruik, asook die wispelturigheid van die mode waar maatskappye dieselfde ou gemors jaar na jaar verkoop deur slegs ’n paar oppervlakkige veranderings aan te bring, of selfs net ’n ander bemarkingstrategie te gebruik. Dink net aan al die winkels in die Kerstyd om te sien hoe waar hierdie stelling is. Vir elke fantastiese nuwe, laekoste, lae-impak, wonderlike implement wat geproduseer word en wat toeganklik en nuttig is vir verbruikers wat dit werklik nodig het, is daar miljoene nuwe, baie duur, meestal lelike en moontlik gevaarlike items wat die mark oorspoel net om wins te maak. Dit is wat Papanek in sy boek bespreek, en sy boodskap is steeds vandag waar. Die ontwerpwêreld hou steeds aan om talle nuttelose dinge met eindelose herhaling van swak idees te produseer, ten spyte van soveel potensiaal en talle verbeterings. Dit is per slot van sake as gevolg van swak ontwerp dat die wêreld vol rommel is.
Die volgende beeld is deel van ’n vloeidiagram wat in Papanek se boek voorkom. Hy gee nie die antwoorde om die dilemma op te los nie, hy maak slegs voorstelle, maar hy maak op ons staat om die probleme van ons dag op te los. Kyk na die vetdruk boaan en kyk of jy met sy ontleding saamstem. Jy is die volgende geslag van verbruikers en ontwerpers! Baie van wat kan verander, hang van jou af.