Ons het almal al die Suid-Afrikaanse MIV/vigs-veldtogte wat op die jeug, swanger vroue, mans en die algemene gemeenskap gerig is, gesien. Hierdie veldtogte het ’n egte Suid-Afrikaanse aanslag en gebruik dikwels illustrasies en baie min teks as die basiese raamwerk vir die visuele ontwerp. In ander lande is MIV/vigs-veldtogte anders in hulle benadering en inhoud. Adriana Bertini is ’n Brasiliaanse kunstenaar en ontwerper wat probeer om deur die mode ’n bewustheid vir MIV/ vigs te kry. Dis egter nie mode soos jy normaalweg sal verwag nie, want Bertini gebruik afgekeurde kondome in plaas van materiaal.
Antwe-plakkaat “Woman against AIDS”
Adriana Bertini voor ’n prent van Marilyn Monroe wat sy uit kondome geskep het.
Bertini het van haar tyd deurgebring as vrywilliger by GAPA, ’n organisasie wat mense van vigs bewus maak en mense help wat aan hierdie siekte ly. Namate sy gewerk het met verskillende groepe en individue, veral kinders wat MIV-positief is, het sy besluit om ’n bewustheidsveldtog te skep wat mense net nie kan ignoreer nie. Bertini het in 1997 haar “Trek aan teen vigs (Dress Up Against AIDS)”-veldtog begin wat alternatiewe mode as bemarkingsmedium gebruik. Die stukke wat sy geskep het, was kleurvol en prettig, en van ’n afstand sou jy nooit verwag dat dit uit kondome gemaak is nie. Hemde, rompe, formele aanddrag en selfs ’n trourok is alles geproduseer met kondome wat tydens gehaltetoetsing afgekeur is. Haar keuse van materiaal kan vreemd lyk, maar Bertini gebruik haar modeskeppings om die kwessies te beklemtoon wat MIV/vigs omring en sy dra haar boodskap uit dat “kondome ’n basiese alledaagse bykomstigheid moet wees soos jeans en so noodsaaklik soos ’n groot liefde”. Bertini het haar werk regoor die wêreld in galerye en by modevertonings uitgestal. Benewens die mode-items, produseer sy ook beeldhouwerk en ander afbeeldings. Duisende kondome kan in ’n enkele stuk gebruik word. Benewens die sosiale aspek wat aan haar werk gekoppel word en die bewustheid wat dit kweek, vervul die produksie van hierdie items ook ’n omgewingsfunksie deur te verhoed dat die afgekeurde kondome op die ashoop beland.