Ter inleiding van Aktiwiteit 6 As jy die fliek “Chicago” gesien het, sal jy ’n goeie idee hê wat die Art Deco-era ten opsigte van styl behels het. Dit was ’n era van onverdunde en onbeskaamde luuksheid. Dit het ontstaan uit ’n era van ekonomiese ineenstorting en oorlog, maatskaplike ongelykhede en onrus, hongeropmarse en die stryd tussen fascisme en kommunisme. Onthou hoe ons vroeër bespreek het hoe alles as gevolg van of in reaksie op iets anders plaasvind? Daar was talle invloede op die styl en die kunstenaars van die era het hulle eie unieke identiteit geskep deur mildelik van talle style te leen. Dit het moderniteit beklemtoon en die gebruik van die jongste tegniese ontwikkelings en materiale omarm. Dit was in wese ’n wêreld van energie, lewenskragtigheid en skoonheid, maar was in werklikheid ’n vorm van ontsnapping, ’n wonderlike wêreld van fantasie. Wat dit vir ons agtergelaat het, is ’n erfenis van wonderlike handwerk en verbeelding. Die skoonheid van die werk wat in hierdie era geskep is, het ons noual vir amper ’n eeu verwonder en gaan dit nog lank doen. Soos jy weet, word Art Deco gekenmerk deur geometriese patrone, slanke ontwerp en talle eksperimentele pogings met materiale soos glas, plastiek en bakeliet (handelsnaam Bakelite). Teen die einde van die 1930s het die visualisering en personalisering van spoed en tegnologie al hoe belangriker geword. Deur die gebruik van glansmateriaal en -oppervlakke te beklemtoon, het dit natuurlikerwys tot die gebruik van pragtige aërodinamiese lyne gelei. Hierdie era, bekend as die Moderne Tydperk, het die vroeëre meer bekende patrone van Art Deco vervang. Art Deco verteenwoordig ’n oomblik in die moderne geskiedenis – die era van jazz, gladde, gestroomlynde motors, flappers, kostuums en die pragtige wolkekrabbers wat in stede soos New York bekend geraak het.
AKTIWITEIT 6
Die volgende voorbeelde is van die verpakking en ontwerpe wat deur Art Nouveau en Art Deco beïnvloed is. Kyk of jy kan identifiseer watter een by watter styl tuishoort. Onthou dat Art Deco by ander style geleen het, en dit sluit Art Nouveau ook in!