Eerste Wêreldoorlog- en Tweede Wêreldoorlog-propaganda
Plakkate van die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog is goeie voorbeelde van *propaganda. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het plakkate en visuele media wat in Duitsland geproduseer is, op die “bose daarbuite” gefokus. Plakkate het uitgebeeld hoe sleg die wêreld geword het en hoe korrek en regverdig die Duitse stelsel en regering is. Duitse plakkate uit die Eerste Wêreldoorlog gebruik sterk illustrasies en donker kleure. Hierdie elemente steun die “donker” aard van die inhoud. Hierdie plakkate is daarop gerig om vooroordeel te vestig teen die mense en die groep wat op die plakkate uitgebeeld is. Vooroordeel is wanneer jy ’n slegte opinie van iemand wat gevorm is voordat jy selfs daardie persoon ontmoet het of tyd saam met hom of haar deurgebring het. In plaas daarvan om slegs te fokus om vooroordeel teen spesifieke groepe te ontwikkel, kommunikeer Duitse plakkate uit die Tweede Wêreldoorlog twee verskillende konsepte. Aan die eenkant is plakkate geproduseer wat Jode en ander groepe in ’n verskriklike swak lig stel. Aan die anderkant is plakkate ook geproduseer om die Duitse gesin en Hitler as die vaderfiguur van die volk te vereer.
Tradisionele Duitse lettertipes is dikwels in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gebruik om die sterk patriotiese kultuur van die Duitse burgers tot voordeel aan te wend.
As deel van die propagandaveldtog wat die Nazi’s gebruik het, is groot byeenkomste en parades gehou. Die mag van die Duitse magte is regdeur hierdie byeenkomste beklemtoon, met die swastika wat as een van die mees visuele simbole gebruik is.
*
Propaganda: Die beheer en verspreiding van slegs spesifieke inligting, idees en gerugte om ’n spesifieke persoon, groep of organisasie te help, of om ’n spesifieke persoon, groep of organisasie te benadeel.