Dit is beïnvloed deur die eenvoudige onopgesmukte meubels wat deur die Kuns- en Handwerkbeweging geproduseer is. Dit is ook beïnvloed deur die kubistiese beweging, wat daaraan geglo het om voorwerpe te reduseer tot hulle mees basiese vorms, naamlik die kubus, die silinder en die sfeer wat deur die Bauhaus aanvaar is. Nog ’n beweging wat ’n invloed op die Bauhaus uitgeoefen het, was die Hollandse beweging, De Stijl, wat onpersoonlike, abstrakte werke geskep het van vierkantige en reghoekige blokke met primêre kleure wat deur vertikale en horisontale lyne van die swart en wit geskei is. Al hulle werk het gladde oppervlakke gehad wat gelyk het of dit deur ’n masjien geskep is en het ’n wiskundige basis gehad.
Hulle is deur die Amrikaanse argitek, Louis Sullivan, beïnvloed na aanleiding van sy aanhaling: “Vorm volg op funksie.” Dit beteken dat voorwerpe aan die beginsel van suiwerheid van vorm moes voldoen en onopgesmuk gelaat is.
Wat het hulle gedoen?
Onder leiding van Walter Gropius, Paul Klee, Marcel Breuer, Josef Albers, Mies van der Rohe en Wassily Kandinsky het die studente van die Bauhaus die geleentheid aangegryp om weer oor geboue, meubels, films, fotografie, die teater, musiek, speelgoed, toestelle en die mode na te dink.
Die Bauhaus het begin om na die behoefte te kyk om onder moeilike ekonomiese toestande gesonde behuising vir ’n groeiende stedelike bevolking te verskaf. Hulle het dit met ’n verbeeldingryke en praktiese oplossing gedoen. Hulle wou voordeel trek uit nuwe tegnologieë en ’n deurbraak maak vir rasionele en funksionele vorm in ontwerp. Industriële massvervaardiging wat koste beperk, onder leiding van Hannes Meyer, moes produkte vir die massas bekostigbaar maak.
Alhoewel hulle die belangrikheid van ontwerp vir massaproduksie beklemtoon het, het hulle ook baie mense van werk ontneem deur hierdie pad te kies.
Die Bauhaus het elemente van opleiding in die skone kunste en in ontwerp gekombineer. Dosente en studente het wonderlike ontwerpe ontwikkel vir voorwerpe en ruimtes wat deel moes vorm van ’n meer menslike toekomstige samelewing.
Die kurrikulum het begin met ’n inleidingskursus wat die studente, wat uit ’n wye verskeidenheid sosiale en opvoedkundige agtergronde gekom het, in die studie van materiale, kleurteorie en formele verwantskappe ingelei het as voorbereiding vir meer gespesialiseerde studies. Hierdie inleidingskursus is dikwels onderrig deur visuele kunstenaars, onder andere Paul Klee, Wassily Kandinsky (1866–1944), en Josef Albers.
Nadat die Bauhaus-teorie bestudeer was, het studente gespesialiseerde werkswinkels betree wat metaalwerk, skrynwerk, weefwerk, pottebakkery, tipografie en muurverfwerk ingesluit het. Die skool het teen hierdie tyd die slagspreuk “Kuns in die Bedryf ” aangeneem.
Die belangrikste doelwit van die Bauhaus was ’n radikale konsep: om die materiële wêreld op ’n nuwe manier raak te sien sodat dit al die kunste saam weerspieël.
Die personeel is in 1923 gevra om hulle werk in ’n uitstalling aan te bied om die finansiering van die skool te regverdig. Hierdie uitstalling het die Bauhaus-skool se oorgang van eksperimentele ambagte na ’n konsentrasie van prototipes vir massaproduksie in industriële ontwerp vertoon.