Inklusiewe ontwerpteorieë soos Universele Ontwerp erken dat ontwerp vir almal bedoel is, en nie slegs dié sonder gebrek nie. Papanek het ’n taxi vir gestremdes vir die Sweedse afdeling van Volvo ontwerp, asook produkte vir die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (UNESCO). Sy siening oor ontwerp en sosiale oorwegings het gelei tot die ontwerp van ’n aantal produkte vir ontwikkelende lande. Dit het ’n transistorradio ingesluit wat van voedselblikkies gemaak is en die Batta-Koya- projek, ’n baie basiese kassetspeler wat in Nigerië en Tanzanië gebruik is om belangrike inligting soos regeringsbeleid en mediese inligting aan landelike gemeenskappe oor te dra.
Die Batta-Koya-projek het daarop gefokus om belangrike inligting van die regering aan ongeletterde, landelike gemeenskappe te verskaf. Papanek se oplossing was ’n aangepaste en vereenvoudigde kassetspeler.
Die manier waarop Victor Papanek gewerk het, het sy persoonlike siening oor die lewe en ontwerp weerspieël. Hy het geglo dat alle ontwerpers ’n etiese taak het om werklik hulle teikenmark te verstaan en om produkte te ontwerp wat toepaslik, funksioneel en veilig is en dat dit sosiale en omgewingsimpak in ag moet neem. Talle ontwerpers gedurende die 1970s was nie gereed om sy idees te oorweeg nie, maar namate die wêreld in die 1980s en 1990s inbeweeg het, het die negatiewe impak van massaproduksie en verbruikersbewustheid merkbaarder geword. Die sienings en teorieë van Papanek het gedurende hierdie tydperk meer as net idees geword – dit het ’n grondslag vir toekomstige ontwerpteorieë en -metodes geword. Victor Papanek het onder andere in 1988 die Distinguished Designer Fellowship en in 1989 die IKEA-stigting se internasionale toekenning ontvang. Hy is in die laat 1990s oorlede en het die vroeë raamwerk vir eietydse ontwerpteorieë nagelaat, insluitend Universele Ontwerp en Volhoubare Ontwerp.
Gedurende Februarie 1968 het ’n groep ingenieurs, ontwerpers en argitekte ’n seminaar oor die toekoms van ontwerp gereël. Victor Papanek verskyn hier tydens die seminaar waar hy die leeromgewings van kinders ondersoek.