Jy het verlede jaar geleer wat ’n teikenmark is. Kan jy nog die besonderhede onthou? Skryf ’n definisie neer van ’n teikenmark om te kyk hoeveel jy kan onthou.
Teikenmark
’n Teikenmark is ’n spesifieke verbruikersgroep aan wie ’n maatskappy sy dienste en produkte wil bekendstel. Hulle is die mense wat die waarskynlikste kopers sal wees. Agentskappe probeer te dikwels om te algemeen te wees in die hoop om ’n groter markaandeel te kry. Die probleem met so ’n benadering is dat jou boodskap te wyd versprei word en die meeste verbruikers mis. Geslaagde veldtogte is baie spesifiek. Die ontwerpers/reklame-agentskappe moet probeer om die teikenmark so akkuraat as moontlik te bepaal, gegrond op al die inligting wat hulle van die kliënt, die produk, grondige marknavorsing en vorige kennis kry
JOU BASIESE GEREEDSKAP – vra die regte vrae Hier is ’n paar vrae wat jy kan vra:
“Met wie praat ek?”
• Is jou teikenmark manlik of vroulik? • Hoe oud is hulle? • Waar woon hulle? Is geografiese ligging belangrik – is hulle stadsmense of woon hulle op die platteland?
• Watter soort werk doen hulle? • Hoeveel geld verdien hulle? Kan hulle hierdie produk bekostig of nie? Dit is belangrik om te weet, veral wanneer jy ’n produk het wat in die luukse-mark val.
• Watter ander aspekte van hulle lewens is relevant? Is hulle huiseienaars, besit hulle motors of gebruik hulle openbare vervoer? Het hulle kinders? Het hulle troeteldiere?