Wat dink jy het die jong mense van vandag regtig nodig, wat wil hulle regtig hê en wat word hulle voorgesê wat hulle wil hê en nodig het? Hierdie realiteite verskil altyd baie. Kom ons kyk dus hoe jy dinge waarneem.
Trek ’n tabel soos die een hieronder en skryf in die eerste kolom neer wat jy dink die jeug in hierdie land regtig NODIG HET. Jy kan na die vloeikaart op die vorige bladsy kyk vir leiding, maar maak dit persoonlik, met ander woorde wat jy as jongmens in Suid-Afrika vandag werklik nodig het.
In die tweede kolom kan jy soveel voorbeelde as moontlik plak – uitknipsels uit tydskrifte – oor wat die jeug van vandag regtig WIL HÊ. Dit kan sekere produkte wees, dit kan ’n leefstyl, ’n gedagterigting of enigiets anders wees wat spesifiek te doen het met wat jy en jou maats WIL HÊ.
In die derde kolom skryf jy en plak voorbeelde uit tydskrifte oor wat jy voorgesê word wat jy moet koop, wat jy moet dra of wat jy moet gebruik. Fokus op die boodskap! Wat, volgens die advertensies, sal gebeur as jy nie gebruik, dra of koop wat hulle sê nie?
Wat het ek as jongmens in Suid-Afrika werklik vandag NODIG?
Wat wil ek as jongmens in Suid-Afrika werklik vandag HÊ?
Hoe sê die media vir my voor wat ek nodig het en wil hê? Hoe gedruk voel ek om te konformeer om ’n sekere voorkoms te hê, en sekere dinge te gebruik en te koop?
Jy kan soveel ruimte gebruik as wat jy nodig het, en as jy drie aparte bladsye wil gebruik om die verskillende kolomme te maak, kan jy dit gerus doen.
Wanneer jou drie afdelings klaar is, skryf vir jouself ’n weergawe van jou bevindings om hierdie aktiwiteit te voltooi. Was jy verras oor die verskil in inhoud tussen die drie afdelings? Of lyk hulle min of meer eenders? Het jy bewus geword van hoe ons deur die media en die kultuur van “meer wil hê om goed te voel oor onsself ” beïnvloed word?
Gee jou aktiwiteit met die nadenkende opstel vir jou onderwyser op ’n netjiese en professionele manier in.