Daar was geen ruimte vir eksperimentering of opstand nie en die populêre kultuur van die era weerspieël hierdie konformiteit en gesinsoriëntering. Die onsekerhede wat deur situasies soos die koue oorlog geskep is, het veroorsaak dat mense nog meer aan hulle ideale vasgehou het. Advertensies, TV- en radioprogramme, die mode en produkontwerp het alles die gelukkige gesin weerspieël. Geslagsrolle was gestereotipeer met vroue as huisvrouens en die man as die broodwinner/voorsiener en hoof van sy gesin/huis. Tieners en jong volwassenes moes altyd na hulle ouers luister, doen soos hulle gesê word, respekvol optree en bo alles gelimlag en gelukkig lyk. Die ideale lewe wat mense geskep het, was egter ’n illusie, ’n ontvlugtingshouding baie soos dié na die Eerste Wêreldoorlog. Teen die einde van die 1950s het die jong mense egter begin rebelleer en die waardes, kultuur en oppervlakkige aard van die wêreld om hulle bevraagteken.
POPKUNS – 1950S
’n Britse kunstenaar genaamd Richard Hamilton het in 1956 ’n collage- kunswerk geskep wat hy genoem het “Wat is dit wat vandag se huise so anders, so aanloklik maak?”
Die stuk is geskep deur items uit die daaglikse lewe (populêre kultuur) te neem en te wys hoe die items die tydperk gedefinieer het. Die stuk sluit ’n liggaamsbouer, ’n TV, ’n geblikte ham, ’n stokkielekker, ’n vrou met ’n stofsuier en verwysing na populêre tydskrifte in. Die gebruik van elemente van populêre kultuur om kuns te skep, was revolusionêr. Kuns is altyd gesien as ’n baie verfynde en gekultiveerde kunsvorm wat bedoel was vir die opgevoede, maar Hamilton se stuk is geskep om vir Jan Alleman toeganklik te wees. Hamilton se stuk het ’n hele nuwe beweging begin wat daarop gefokus het om elemente van populêre kultuur as die kuns van die nuwe verbruikerswêreld te toon. Hierdie beweging is Popkuns, afkorting vir populêre kuns, genoem.
Richard Hamilton se 1956 “Wat is dit wat vandag se huise so anders, so aanloklik maak?”
Popkuns-voorbeeld deur Roy Lichtenstein wat na die gewilde mode van strokiesverhale verwys