In Suid-Afrika het ons ook ’n groot aantal voorbeelde van grottekeninge. Een streek wat argeoloë sowel as geskiedkundiges gefassineer het, is die San-rotstekeninge in die Drakensberg in Suid-Afrika. In hierdie streek het erosie en honderde jare se verwering tot die vorming van grotte regdeur die gebied gelei. Tot die einde van die 19de eeu het die San in hierdie gebied geleef en gejag en skuiling in die grotte van die Drakensberg gevind. Die San het een van die grootste versamelings rotskuns in Afrika nagelaat, meer as 35 000 individuele kunswerke, waarvan sommige so ver as 2 500 jaar terug dateer. Die hoofinhoud van die San-rotstekeninge is diere, mense en verskeie ander voorwerpe. Die eland is die prominentste van die diere wat uitgebeeld word. Die diere en mense is in skakerings van rooi, oranje en bruin saam met swart en wit uitgebeeld. Die meeste van die diere- en mensfigure is slegs in een kleur geverf, maar die eland is dikwels in twee of meer kleure geverf – dit, saam met die getal elande wat geteken is, dui aan dat die eland ’n baie spesiale dier vir die San was. Die San se medisyneman, of sjamaan, is ook baie belangrik in die San-kultuur, en talle mense glo dat hulle rotskuns onder andere die reise van die medisyneman tussen hierdie wêreld en die wêreld van geeste uitbeeld.
Wat is vandag oor?
Ongelukkig staar die San-rotskuns van die Drakensberg en die tekeninge wat in die Lascaux-grotte aangetref word dieselfde probleme in die gesig. Ons bekoring deur hierdie kunswerke het beteken dat duisende mense hierdie terreine besoek. In Lascaux het die beligting, lugversorging en groot getalle besoekers veroorsaak dat skimmel en fungi oral oor die mure versprei het, en in die Drakensberg is talle stukke deur oningeligte besoekers vernietig. Of dit nou in Suid-Afrika, Indië, Rusland of Europa is, rotskuns is ’n belangrike skakel tussen baie ander generasies uit die verlede en ons. Die vroeë mens het dieselfde behoefte aan kommunikasie gehad, en ook om idees, rituele en geskiedenis visueel uit te beeld, as wat ons het om vir mekaar e-posse en SMS’e te stuur en geskiedenisboeke te skryf. Ons kommunikasie vandag bevat dikwels woorde om ons idees en gedagtes voor te stel, maar ons voorvaders het beelde uit hulle omgewing en geloofstelsels gebruik.
Antieke samelewings en die ontstaan van die alfabet
Wanneer het prente dan letters geword en wanneer is dit wat ons nou as die alfabet ken, geskep? Die ontwikkeling van die alfabet soos ons dit vandag ken, was ’n stadige proses wat deur verskillende kulture en mense langs die pad beïnvloed is. Die begin van hierdie reis begin in Mesopotamië, waar een van die eerste menslike beskawings aangetref is. Aandag moet aan die vroeë skrifstelsels in Egipte en Sjina gegee word. As jy van naderby na hierdie drie vroeë beskawings kyk, sal jy sien hoe die mense se begeerte om te kommunikeer en inligting en gebeure op te teken tot die skepping van basiese skrifstelsels gelei het.
Die Mesopotamiese beskawing
Antieke Mesopotamië is waar Irak vandag is – tussen die Tigris- en die Eufraatrivier wat in die Persiese Golf invloei. Alhoewel die Nabye Ooste grootliks ’n halfwoestyngebied is, was die gebied tussen die twee riviere vrugbaar, en nomadiese mense het hulle in die *alluviale strook grond begin vestig. Mesopotamië se somers was uiters warm en het dikwels met droogtes gepaard gegaan. Mense wat in hierdie streek gewoon het, het ’n stryd om oorlewing gevoer, en hulle het besef dat hulle sou moes saam werk om in hierdie oorheersende natuur te oorleef. As gevolg hiervan het baie stede ontstaan waar mense as ’n gemeenskap geboer, gewerk en geleef het, en so het ’n sosiale orde as natuurlike volgende stap ontwikkel.
* 14 /////
Alluviaal: ’n laag klei, slik en moontlik sand wat agterbly nadat ’n rivier afgekom het en baie vrugbare grond agtergelaat het.