Talle van die grootste Egiptiese prestasies het net voor en tydens die Ou Ryk plaasgevind. Dit was gedurende hierdie tyd dat die eerste piramiedagtige struktuur by Sakkara vir koning Zoser (ook Djoser gespel) deur hierdie tydperk se groot argitek/ingenieur, Imhotep gebou is. Let op dat die groot piramides van Giza ook in dieselfde koninkrykstyd gebou is. Die grootste van die drie piramides by Giza is vir die farao, Khufu opgerig en was bedoel om sy oorskot tot in ewigheid veilig te bewaar. Nog ’n ongelooflike prestasie van hierdie fase van die Egiptiese beskawing was die ontwikkeling en gebruik van ’n piktografiese skrifstelsel wat hiërogliewe genoem is.
Die piramides is ontwerp om die liggaam van die farao veilig te bewaar, en verteenwoordig sy mag aan latere generasies; hiërogliewe is gebruik om sy lewensgeskiedenis aan toekomstige geslagte en aan die gode te vertel. Anders as die Mesopotamiërs wat hulle vroeë piktografiese skrifstelsel in ’n meer komplekse, abstrakte stelsel (wigskrif) ontwikkel het, het Egiptiese hiërogliewe vir duisende jare dieselfde gebly. Die konsep van ’n skrifstelsel is een van die talle uitvindsels en vernuftighede wat vroeë Egiptenare uit hulle kontak met die Mesopotamiërs kon aangeleer het. Hiërogliewe en tweedimensionele (plat) kuns uit Egipte is volgens baie spesifieke riglyne geskep. Elke prent het een buitelyn gehad en was eenvoudig en plat. Die Egiptiese styl vir die illustrasie van figure en voorwerpe het deur die hele geskiedenis van hulle beskawing presies dieselfde gebly – ’n figuur wat in die eerste dinastie op ’n graf geverf is, het presies dieselfde gelyk as ’n figuur wat gedurende die dertiende dinastie op ’n graf geverf is. Daar was regdeur daardie tyd geen ontwikkeling in styl nie.
Slegs die belangrikste elemente van ’n prent is getoon, aangesien die belangrikste funksie van Egiptiese beelde en hiërogliewe was om ’n idee te kommunikeer of ’n storie te verduidelik, nie om dit realisties te laat lyk nie. Wanneer ’n farao gesterf het, sou sy grafkelder gevul word met beelde en skrif wat sy lewensgeskiedenis vertel en al sy prestasies aandui. Dit was een van die belangrikste funksies van skrif in antieke Egipte en dus moes die skrifstelsel duidelik en informatief wees.
Daar is geglo dat die formele hiërogliefstelsel wat vir godsdienstige doeleindes gebruik is, aan die mense van Egipte gegee is deur Thoth, die god van kennis en skrif wat as die “god van goddelike woorde” bekend gestaan het. Dit is “mdwt ntr” (god se woorde) genoem. Die stelsel het in die tyd van die Ou en Middelryk uit ongeveer 800 karakters bestaan. Elke “letter” was ’n individuele tekening van iets wat uit die Egiptenare se natuurlike wêreld kom. Elkeen sou ’n spesifieke klank en spesifieke betekenis gehad het (alhoewel dit selfs meer as een betekenis kon gehad het). Die hiërogliefstelsel het slegs uit konsonante bestaan (geen klinkers word in die hiërogliewe aangedui nie). Een van die vroegste voorbeelde van hiërogliewe kan op die Palet van koning Narmer, ook bekend as die Groot Hierakonpolis-palet, gesien word. Die Palet van koning Narmer word gesien as die uitbeelding van die eenwording van Bo- en Onder-Egipte en dateer terug na 3100 v.C. – 3000 v.C.
Narmer-palet: Een van die vroegste voorbeelde van hiërogliewe kan op die Palet van koning Narmer, ook bekend as die Groot Hierakonpolis-palet, aangetref word.