Jy het waarskynlik nou al besef dat waar ons ook al in die lewe beweeg, ons deur tipografie omring word. Jy sal trouens tipografie baie moeilik kan vermy! Ons kry dit op die items wat ons gebruik, byvoorbeeld die handelsname op ons klere, die wysers op ons horlosies en ook op al die verpakkings wat ons gebruik, op padtekens op pad skool of werk toe – feitlik oral waar ons kyk. Ons is egter so bekend met hoe tipografie lyk, dat ons nie eers twee keer probeer om werklik daarna op te let nie. As gevolg hiervan dink ons dat letters ons slegs in een spesifieke taal inlig of voorskryf. Ons lees met ander woorde die woorde, verstaan dit en tree dan daarvolgens op. In werklikheid is tipografie egter baie, baie meer as ’n blote opdrag, selfs al is laasgenoemde ’n noodsaaklike funksie vir die gebruik van tipografie.
Voorbeeld van ’n paar foto’s wat deur verskeie fotograwe regoor die wêreld geneem is.. Kyk hoe mooi dit by mekaar pas wanneer dit op so ’n kreatiewe manier saamgevoeg word.
Soos elkeen van ons het elke lettertipe sy eie persoonlikheid en styl. Een van die moeilikste dinge vir ’n ontwerper is om die regte lettertipe of kombinasie van lettertipes vir ’n spesifieke opdrag te kry. ’n Baie eenvoudige voorbeeld hiervan is dat die meeste mense nie baie vertroue in ’n regsfirma sal hê as hulle logo soos ’n Kinder-TV-logo lyk nie – die pret-tipografie werk baie goed vir kinders, maar sal nie voornemende kliënte van ’n ernstige onderneming soos ’n bank, finansiële instellings, prokureurs en versekeringsmaatskappye beïndruk nie. Dit is ’n lawwe voorbeeld, maar jy sal verbaas wees hoeveel van hierdie foute elke dag deur swak ontwerpers en ook besighede gemaak word. Veral die maatskappy wat nie glo dat goeie ontwerpers waarde aan hulle besighede kan voeg nie.
Net so, as ’n ontwerper ’n lettertipe sou gebruik wat die styl van ’n sekere era verteenwoordig, byvoorbeeld ’n Victoriaanse lettertipe, en dit in ’n ander konteks soos die sestigs plaas, sou dit nie eg lyk nie, aanvanklik die verkeerde teikenmark lok, en mense sal dit verwarrend vind en bloot nie verstaan nie.