’N BIETJIE INSPIRASIE VIR DIE AGTERDOEK EN/OF DIE SYVLEUELS:
Hierbo sien jy ’n voorbeeld van een van William Morris se muurpapierontwerpe (uit die Kuns- en Handwerkbeweging). Jy kan duidelik die gebruik van ’n gestileerde tegniek hier sien deur die afplatting en omlyning van die vorms. Dit is toe met waterverf ingekleur. Te oordeel aan die hoeveelheid detail wat dit vereis om so te werk, is geduld en baie vaardigheid en beheer nodig. Dit sal wys wees om stadig en sistematies te werk sodat jy ’n akkurate en netjiese ontwerp kan lewer. Dit is dalk nodig dat jy weer van die waterverflae aansit sodat sekere kleure minder deurskyn. Die verspreiding en aanwending van kleur kan meer dramatiese gewig aan jou finale stuk gee. Verbeel jou dat alles dieselfde gelyk het en daar regdeur die hele ontwerp geen kontras in lyn, kleur en vorm was nie. Dit sou slegs tot ’n baie eenvoudige en vervelige stuk werk lei. As die aanwending van kleur, tekstuur en vorm, kontras, drama, ritme en beweging noukeurig oorweeg en aangewend word, dra dit by tot ’n interessante en opwindende komposisie wat die belangstelling van die kyker behou. Dit is altyd ’n goeie idee om vir jou eie stel waterverfkwaste van ’n goeie gehalte en ’n verskeidenheid groottes te spaar sodat jy met vertroue aan fyner werk met meer detail kan werk.