Wat is populêre kultuur en hoe hou dit met Generasie Y verband?
Voordat ons na voorbeelde kyk van populêre kultuur of popkultuur soos dit bekend geword het, is dit belangrik om te verstaan wat popkultuur is en wat dit verteenwoordig. Popkultuur is oral om ons en word verteenwoordig deur die flieks, TV-programme, kunstenaars, musiek, mode en selfs woordeskat wat deur die *hoofstroom gebruik en aanvaar word. Populêre kultuur loop selfs dieper en kan ook ons oortuigings en houdings insluit. Populêre kultuur verwys nie na wat jy as individu van hou of nie hou nie – dit is baie groter as dit en verteenwoordig dikwels die elemente, mense en media wat van ’n spesifieke tydperk herkenbaar is. Populêre kultuur, as ’n idee, dateer terug tot die 19de eeu, maar het eintlik vanaf die 20ste eeu ’n beter gedefinieerde konsep geword. Talle geskiedkundiges glo dat populêre kultuur soos ons dit vandag verstaan, tydens die Industriële Revolusie begin het. Voor die industriële tydperk het die mens op plase of in dorpies gewoon en baie tradisionele lewens wat nie baie oor die jare heen verander het nie, gelei. Met die begin van die Industriële Revolusie het mense na die stede toe getrek en vir die eerste keer in die geskiedenis is groot stedelike sentrums gevorm. Mense van talle verskillende dorpies of selfs lande het in die stad saam gewoon en gewerk. Sekere smake het gesamentlik ontwikkel as gevolg van populêre idees en voorwerpe van mense uit ’n verskeidenheid verskillende agtergronde en kulture. Mense het in stede wegbeweeg van die tradisionele en baie stabiele kultuur na een wat vinnig verander het en deur die meerderheid aanvaar is. Die dryfkrag agter die verspreiding van nuwe idees was die massamedia van die industriële tydperk – strooibiljette, koerante, plakkate, advertensies en talle ander vorms van media wat mense ingelig het oor nuwe idees, tendense, modes, produkte, ens. ’n Kernsaak om te onthou, is die idee van verandering. Tradisionele kultuur verander nie veel nie, maar populêre kultuur verander in ’n oogwink! Dit is wat populêre kultuur maak wat dit is.
Die term populêre kultuur het aanvanklik ’n negatiewe konnotasie gehad wat beweer het dat die populêre kultuur nie so ontwikkel of verfynd is as die kultuur van die welgestelde en opgevoede mense nie. Alhoewel dit nie altyd waar is nie, kan jy gewoonlik populêre kultuurtendense met spesifieke generasies in verband bring; in hierdie sin sal populêre kultuur altyd verwys na die kultuur van die mense op daardie spesifieke tydstip toe hulle geleef het.
Ons verwys op die oomblik na die oorheersende generasie as Generasie Y, ook bekend as Gen Y, die Millenniale en die Net-generasie. Individue wat aan Gen Y behoort, is tussen ongeveer 1980 en 2000 gebore en verskil grootliks van die vorige generasie, wat Generasie X genoem is. Gen Y-individue is digitaal ingestel en sien tegnologie en digitale toestelle as deel van hulle alledaagse bestaan. Hulle is ook meer omgewingsbewus en neig om meer aanvaardend teenoor ander te wees. Dit is maar ’n paar eienskappe van Gen Y. Om ’n generasie soos hierdie te definieer, maak dit makliker om gebeurtenisse, gedrag en voorkeure van ’n groep te verstaan. Hierdie kennis is baie belangrik vir ’n produkontwerper, aangesien die ontwerp van ’n nuwe MP3-speler vir tieners sal bepaal word deur daardie generasie se eienskappe, wat ook sal bepaal hoe ingewikkeld of eenvoudig die koppelvlak gemaak moet word. In die mode kan die ontwerper byvoorbeeld die tendense in patrone en materiale bepaal. Die tieners en jong volwassenes van ’n generasie word gesien as die “populêre kultuur” en dit word gesteun deur die media, wat in tydskrifte en op die radio en TV bevorder wat as in die mode of “nou” gereken kan word. Die algemene aanvaarding van populêre kultuur is wat dit hoofstroom vorm, maar verskillende groepe en individue sal uit hulle pad gaan om hoofstroomelemente te vermy en deel te vorm van wat as *subkulture bekend staan.
* 384 /////
Die selfstandige naamwoord “hoofstroom” verwys na die algemene en dominante tendense in die samelewing ten opsigte van opinies, die mode, vermaak, die kunste, media, tegnologie, ens. Hoofstroom verteenwoordig die idees en opinies van die meerderheid in die samelewing. ’n Subkultuur verwys na ’n groep individue wat menings en belange het wat verskil van dié van die meerderheid en die algemene kultuur. ’n Subkultuur kan gesien word as dié wat nie die hoofstroomkultuur aanhang nie.