Ter inleiding van Projek 13 Die Art Nouveau-styl het teen die einde van die 19de eeu ontstaan. Hierdie styl was ook ’n reaksie op sorgwekkende stedelike groei en die tegniese vorderings wat deur die Industriële Revolusie veroorsaak is. In teenstelling met die tradisionele afdeling van kuns in die verskillende kategorieë van die skone kunste (skilderkuns en beeldhouwerk) en die toegepaste kunste (byvoorbeeld keramiekwerk, meubelontwerp), het Art Nouveau al die kunsvorms en ontwerp ingesluit. Die onmiskenbare eienskappe van Art Nouveau kan gesien word in die argitektuur, meubels, glasware, juwele, ontwerp, verfwerk, metaalwerk, keramiekwerk, tekstielontwerp, asook grafiese ontwerp. Kunstenaars en ontwerpers het begryp dat die handwerk-erfenis van die vorige eeue vir altyd verlore kon wees en besluit om hierdie handwerktradisie weer te herroep, maar het terselfdertyd wegbeweeg van die tradisionele kunsstyle na nuwe organiese vorms wat die mens se interaksie en verwantskap met die natuur beklemtoon. Die lyn tussen die skone kunste en toegepaste ontwerp was vaag en hulle het goeie ontwerpbeginsels op alle aspekte van die lewe toegepas. Soos ons reeds weet het hierdie geïntegreerde benadering as invloed gedien vir talle bewegings, insluitend die Bauhaus-skool in die 1920s en 1930s.
’n Paar pragtige voorbeelde van gestileerde plant- en organiese inhoud wat vir die muurpapierontwerp in die Art Nouveau-styl gebruik is.
Ten spyte van die voorbeelde wat hierbo getoon is en in die laat 19de eeu ontwerp is, is daar ’n bekendheid aan hulle, veral in die tekstiel- en muurpapierbedryf van vandag. Dit is juis die rede waarom ons die geskiedenis van ontwerp bestudeer.
Julle het almal al die ou gesegde gehoor: “Daar is niks
nuuts onder die son nie..” . Dit is veral waar in die wêreld van ontwerp. Namate die mode verander, so verander ontwerpe. Net soos aan die einde van die 19de eeu, is die verskillende kunskategorieë weer vandag vervleg. Dit is natuurlik die gevolg van wat in die afgelope paar dekades gebeur het – alles in ons wêreld is die hele tyd aan die verander en pas by die wêreld om ons aan. Wanneer ons besef dat alles in ons visuele wêreld om ’n rede plaasvind en ’n reaksie op vorige toestande is, kry ons meer selfvertroue om toonaangewers eerder as navolgers te wees. Ons moet as ontwerpers voor die res wees, nie deel van die trop wat volg nie. Kyk na die volgende voorbeelde. Dit is eietydse voorbeelde van muurpapier wat vandag te koop is. Kan jy die bekendheid sien waarna ons verwys? Alhoewel dit nie presies dieselfde is nie – die nuwes is meer eietyds – kan ons duidelik die ooreenkoms met die Art Nouveau-styl sien.
Voorbeelde van eietydse muurpapier van die Hertex-versameling