Hierdie advertensie was deel van die veldtog wat Brody vir Nike ontwerp het.
Elke persoon wat deesdae op ’n rekenaar werk, het die vermoë om die tipografiese elemente en eienskappe te verander – vanaf die tipe font wat jy wil gebruik tot die presiese reëlspasie, letterspasiëring en lynspasiëring. Die feit dat jy die lettertipe op jou rekenaar kan verander en manipuleer, maak nie van jou ’n tipograaf of selfs ’n ontwerper nie. Om tipografie as kragtige element in ontwerp te gebruik wat die konsep van die ontwerp ondersteun, verg oefening, ervaring en tegniek. Grafiese ontwerpers en tipograwe word opgelei om lettertipes te skep en manipuleer om presies wat hulle wil hê, oor te dra. Of ’n mens nou na die geskiedenis van die antieke Mesopotamiese beskawing of die oorwinnende Romeine kyk, die mens se behoefte om te kommunikeer en dinge op te teken is universeel. Ons wil met mekaar kommunikeer, nuwe kennis verwerf en ’n nalatenskap agterlaat. Dink hoe vreemd jou dag sou wees sonder enige skrif – geen inligting op die boks graankos nie, geen manier om te weet watter tandepasta jy gebruik nie, geen padtekens om by die skool uit te kom nie, geen SMS’e, geen e-posse en geen sosiale media nie. Die ontwikkeling van ’n skrifstelsel het mense toegelaat om ’n nuwe uitgebreide samelewing te hanteer en vir die versameling en optekening van kennis ruimte te maak. Die ontwikkeling van die drukpers het kommunikasie en inligting vir almal beskikbaar gestel. En sedertdien het ons nuwe maniere uitgevind om te druk en nuwe maniere om inligting te deel, maar een ding het dieselfde gebly: ons alfabet.
As jy vandag die woord “alphabet” op Google opsoek, is daar meer as ’n biljoen resultate, en as jy die woord “typography” soek, is daar 41 miljoen resultate. Tipografie in die moderne sin het van ’n basiese alfabet vir kommunikasie tot ’n visuele verskynsel in ons wêreld verander. In moderne ontwerp is die keuse van ’n lettertipe op ’n aantal faktore gegrond: is die lettertipe toepaslik, dra dit die regte emosie oor en steun dit die konsep van die ontwerp? Met duisende fonte wat beskikbaar is, kan die visuele voorkoms van jou teks nou jou boodskap ondersteun in plaas daarvan om dit net oor te dra. Kommunikasie en die “oordra van die boodskap” is vandag een van die sleuteleienskappe van ontwerp. Hoe manipuleer en skep ’n mens dan nou ’n boodskap wat óf by almal óf slegs by ’n paar uitgesoektes byklank vind?