Maak asseblief seker dat jy die volgende verstaan en dit in die regte konteks kan gebruik. Dit word tog ten sterkste aanbe- veel dat jy die ontwerp-terme in Engels ken en verstaan aangesien die Engelse terme op ’n universele basis verstaan en daagliks in die industrie gebruik word.
A
Abstrak: iets wat geen visuele verwysing met ’n bestaande objek in gemeen het nie kan as abstrak beskou word; deur ’n bestaande objek abstrak te maak, maak jy die objek minder herkenbaar/identifiseerbaar in vergelyking met sy oorspronklike vorm; kan ook verwys na ’n konsep of idee – iets wat nie konkreet is nie Adverteer/advertensie: ontwikkel en geplaas deur ’n advertensie-agentskap namens ’n maatskappy/borg; betaalde formaat wat aangebied word deur ’n geïdentifiseerde borg om sodoende ’n nuwe gebeurtenis, produk of diens bekend te stel; ’n vorm van kommunikasie om potensiële verbruikers te oorreed om ’n bepaalde handelsmerk, produk of diens te koop of meer daarvan gebruik te maak; groot verskeidenheid mediums word gebruik om hierdie boodskappe oor te dra: insluitende tydskrifte, koerante, televisie, radio, advertensieborde, bioskope, videospeletjies en die internet; die doel is om goedere en dienste te verkoop Afro-kam: afro is ’n haarstyl wat soos ’n wolk of ligkrans vertoon en word tradisioneel gedra deur mense wat afstammelinge van Afrika is of deur mense met baie krullerige hare; gedurende die 60s is hierdie haarstyl gedra as ’n simbool vir “black pride” (swarttrots); die afro-kam is ’n toestel wat gebruik word om die haarstyl te stileer Agtergrond: ’n afdeling in ’n 2D-beeld wat in die verte uitgebeeld word; afdeling of area agter die objek Akromaties: met geen kleur; gekarakteriseer deur swart, grys of wit Analiseer: om iets te bestudeer en te ontleed om dit sodoende te kan verstaan Analogiese kleur: kleure wat langs mekaar op die kleurwiel voorkom, soos rooi langs oranje en blou langs groen; word dikwels saam in kleurskemas gebruik Animasie: die kombinering van ’n reeks individuele prentjies (ook genoem raampies) om ’n tydlyn wat aaneenlopende beweging voorstel tot gevolg te hê; kan beplan en voorgestel word op papier of in digitale formaat