Hierdie tekstieldruk met sy helder kleure is tipies van die modernistiese era. Soos voorheen genoem, wou ontwerpers helder en kleurvolle materiale skep om die eenvoudige, strak modernistiese binnekante van geboue te komplementeer. In hierdie tekstielstof is die dominante kleur rooi met grys, donkergeel en swart.
Al die vorms is plat en word tweedimensioneel waargeneem.
Vorms van voëls en houers is vereenvoudig tot gestileerde lyntekeninge wat in swart en wit gedoen is. Dit sal jou aan die draadprodukte herinner wat ons dikwels op straat en by plaaslike Suid-Afrikaanse markte sien. Die tekstuurkwaliteit van die lyntekening binne hierdie konteks lyk of dit tekstuur tot hierdie tekstielware bydra.
Die tekeninge is geplaas op plat geometriese vorms van verskillende groottes driehoeke, sirkels en vierkante en waarvan die kleur tussen wit, grys en geel wissel. Die lyne het regdeur dieselfde dikte en kwaliteit. Horisontale lyne in grys en swart kom hier en daar in die agtergrond voor.
Kontras word verkry deur die tekeninge op plat gekleurde vorms te plaas. Die ontwerp is ’n verspreide, onreëlmatige ontwerp wat in ’n vol-herhaal patroon (full-drop repeat) gedoen is.
Bedrukte rayon patroon deur Marion Mahler. 1950s
Kan jy die vollengte vol-herhaal patroon in die ontwerp hierbo sien? Vind uit wat herhaal-ontwerp is en bring van jou eie voorbeelde klas toe vir bespreking.
PRODUKONTWERP
Die nuwe estetika van die 1950s was primêr gegrond op “organiese of biomorfiese modernisme”, soos amebe-, boemerang- en niertjievorms. Die reaksie van Margret Craver van die Towle Silversmith-maatskappy op hierdie neiging was die Contour met sy bonkige liggame, hoë handvatsels en uitgerekte tuite.
Hierdie stel met sy pragtige skoon vorms is onversier soos dié in die Bauhaus-voorbeelde. Die vorms van die bekers is ietwat gekrom en lyk of hulle effens vorentoe leun. Die groot beker het ’n groot gerieflike swart handvatsel wat ’n visuele balans skep met die groot, bonkige liggaam van die beker. Die tekstuur is glad en die silwer is in kontras met die donker handvatsel. Sagte gekromde lyne is vir die kurwes van die rande en die handvatsel gebruik.
Margret Craver het die Contour- koffiestel in 1950 ontwerp
Hierdie stel verpersoonlik die modernistiese ideaal van estetika en “vorm-volg-funksie”.