Abstrakte Ekspressionisme – ’n Skilderskool wat in New York in die 1940s ontstaan het en abstrakte vorms met die spontaneïteit van artistiese uitdrukking gekombineer het. Die kunstenaars het emosie en reaksie op dinge beklemtoon eerder as om voorwerpe te toon soos hulle lyk.
Akriel – ’n Verf wat akrielhars bevat, veral vir skilderwerk gebruik. Iets wat van akrielsuur gemaak is of dit bevat. Dit het ook gelei tot die ontdekking van sekere kleure wat nog nooit voorheen verkry kon word nie. Die eerste akrielverf is tussen 1946 en 1949 deur Leonard Bocour en Sam Golden onder die handelsnaam Magna-verf gemaak.
Allooi – ’n Mengsel van metale. In metallurgie ’n stof wat ’n mengsel is van twee of meer metale, of ’n metaal wat met ’n niemetaal gemeng is.
Amebe – Eensellige lewensvorms wat deur onreëlmatige vorms gekenmerk word. Iets wat so lyk, is amebeagtig of ameboïed.
Bakeliet – ’n Soort harde plastiek wat veral in die 1930s en 1940s gebruik is om dinge soos radio’s en telefone van te maak. Bakelite was die handelsmerk van verskillende sintetiese harse wat in talle vervaardigingsprosesse gebruik is.
Betonoerwoud – ’n Plek vol kleurlose geboue of ’n stedelike gebied wat heeltemal met loopvlakke, paaie en geboue bedek is en vyandig voorkom.
Biomorfies – ’n Verwysing na vorms, patrone of meganiese stelsels waarvan die vorm, voorkoms, funksie of beweging soos dié van ’n lewende organisme is. Dit kan ook van ’n insek of dier wees wat met ’n mens saamgevoeg is.
Boemerang – ’n Gekromde missiel wat lyk soos ’n plat stuk krom hout wat as wapen deur die Australiese inboorlinge gebruik is en só ontwerp is dat dit terugkeer na die persoon wat dit gegooi het.
Estetika – ’n Idee van wat pragtig of kunstig is wanneer jy daarna kyk.
Fineer – ’n Dun oppervlaklagie soos fyngreinhout wat op ’n basis van swakker materiaal vasgeplak is. Enige van die dun lae wat vasgeplak word om laaghout te maak.
Formalistiese tendens – ’n Sterk of oordrewe klem op uiterlike voorkoms in plaas van inhoud of betekenis.
Gelamineerde hout – Fineerhout is gelamineer om ’n goedkoop en duursame alternatief te wees vir duur soliede hout vir meubels. ’n Manier om velle saam te voeg om ’n sterk en duursame saamgestelde materiaal te maak.
Getrouheid aan materiale – materiale moet vir hulle eie eienskappe gebruik word en nie met versierings bedek word nie.
Gewapende beton – Beton wat gemaak is met metaaldraad of -stawe daarin om dit te versterk.
Hoofstroom-modernisme – Die term modernisme sluit oor die algemeen gewoonlik die aktiwiteite en uitsette in van dié wat voel dat “tradisionele” vorms van kuns, argitektuur, literatuur, geloof, maatskaplike organisasie en die daaglikse lewe uitgedien begin raak in die nuwe, moderne ekonomiese, maatskaplike en politieke toestande van ’n ontluikende en heeltemal geïndustrialiseerde wêreld.