Hierdie produkte gebruik almal gekrulde rande, gladde lyne en horisontale ontwerp wat eienskappe van die 50s en 60s se ontwerp was..
Wanneer ’n styl herleef, word ontwerpers en kunstenaars deur die styl geïnspireer en gebruik elemente en konsepte van daardie vorige styl. Herleefde styl-ontwerpe kan werklike ontwerpelemente insluit wat hergebruik word, of dit kan die vorige styl gebruik en dit met moderne elemente kombineer om ’n nuwe styl te skep. Die nuwe styl het sleuteleienskappe van die historiese styl of periode, maar dit is ’n ontwikkeling van die ou styl. Herlewing is baie dieselfde as retro, maar die term word gewoonlik gebruik om ’n langer tydperk van inspirasie te beskryf (meestal in meubelontwerp en argitektuur).
Wanneer jy dus ’n enkele “retrostyl horlosieradio” produseer, of meubels in ’n herlewingstyl maak, bly die geskiedenis die inspirasie. Onthou daar is ’n verskil tussen die skep van ’n retro-ontwerp en die kopiëring van ’n ontwerp. Om eenvoudig iemand anders se ontwerp te kopieer, is ’n vorm van *plagiaat en kan erge gevolge hê vir die integriteit van jou ontwerp, en jy kan selfs regstappe teen jou ingestel kry! Wees dus gewaarsku!
Populêre kultuur uit die verlede
Ons het reeds die insluiting van historiese style in moderne style deur herlewing of die skep van retro-elemente bespreek. Ontwerpe uit die verlede vertel die storie van mense wat dit geskep het en in watter era hulle geleef het. Visuele uitdrukking word baie gevorm volgens of as gevolg van die sosiale toestande van die tyd. Dit beteken dat ons visuele uitdrukking, ons kuns en ontwerp, beïnvloed word deur wat ons ervaar. Dit word verder deur ’n aantal faktore beïnvloed, insluitend oorlog, finansiële onsekerheid, voorspoed, politieke kwessies ens. Alles wat jou as ontwerper beïnvloed, sal ’n impak hê op jou visuele uitdrukking en sal ook ’n rol in die ontwikkeling van populêre kultuur speel. Populêre kultuur is nie ’n nuwe konsep nie – dit is slegs die aanvaarde kultuur van die meerderheid van die mense op ’n gegewe tyd. ’n Kort bespreking van tendense binne die populêre kultuur van die vorige eeu sal help om die impak van sosiale faktore op populêre kultuur en die veranderinge van tendendse gedurende die 20ste eeu te verduidelik.
GLAMOUR, JAZZ, HOLLYWOOD EN DIE BAUHAUS
Die begin van die 20ste eeu was ’n tydperk van verandering en eksperimentering. Dit het begin met Art Nouveau, ’n term wat verwys na die Europese beweging wat in die laaste deel van die 19de eeu baie produktief was. Hierdie beweging het rondom 1890 in Europa begin en gedurende 1900 sy hoogtepunt bereik. Dit het net voor die Eerste Wêreldoorlog begin afneem. Die term Art Nouveau kom van die binnenshuise ontwerp-galery genaamd Maison de l’Art Nouveau wat in 1896 in Parys geopen het. Hierdie beweging is gekenmerk deur sy miskenning van aanvaarde estetiese waardes en die afkeer van die sosiale en morele stand van die samelewing gedurende hierdie tydperk. Die wêreld het begin verander, vroue het stemreg gekry (die eerste onafhanklike land wat aan vroue stemreg gegee het, was Nieu-Seeland), daar was voordurende tegnologiese ontwikkelings, nywerhede en enigiets was skynbaar moontlik, het ontwikkel. Hierdie standpunt is deur lede van die Kuns- en Handwerkbeweging gedeel en kruisbestuiwing van teorieë en ideale kan tussen die bewegings gesien word.
*
Populêre kultuur is nie ’n nuwe konsep nie – dit is slegs die aanvaarde kultuur
van die meerderheid mense op ’n gegewe tyd.
Plagiaat: Plagiaat is wanneer jy ’n idee, ontwerp, konsep van iemand anders neem en dit as jou eie werk aanbied.