Die 1970s kan gesien word as ’n tydperk van teenstrydighede. Aan die een kant het disko ’n prettige alternatief gebied om aan die probleme van die werklike wêreld te ontsnap, terwyl woede en onstabiliteit aan die ander kant die hoofstroomdenke beïnvloed het. ’n Aantal belangrike gebeure het ’n impak op die tydperk gehad, insluitend die energiekrisis, die Kubaanse missielkrisis, die vrouevryheidsbeweging en die eerste omgewingsberaad. Hierdie gebeure het die populêre kultuur en ontwerpstyle van hierdie era in ’n groot mate beïnvloed.
ENERGIEKRISIS LEI TOT ALTERNATIEWE
Die energiekrisis wat Amerika in 1973 getref het, het ’n verwoestende uitwerking op die ekonomie gehad, met ’n rimpeleffek regoor die wêreld. Hierdie situasie is veroorsaak deur die skielike staking van olie-invoere na Amerika vanuit verskeie Midde-Oosterse lande wat aan OPUL (Organisasie van Petroleumuitvoerlande) behoort. Amerika, soos die res van die Westerse wêreld van daardie tyd, was afhanklik van olie-invoere vanuit die Midde-Ooste. Die effek was dat oliekostes dramaties gestyg het en in ’n aantal lande het olieskaarste ’n realiteit geword. Die effek van die krisis op finansiële vlakke was verwoestend, alhoewel die situasie die noodsaaklikheid na vore gebring het om alternatiewe energiebronne te soek. Wind, sonkrag en hidro (water) het die nuwe grens vir energieproduksie geword en dit het grootliks ’n impak gehad op die ontwerp en konstruksie van produkte en binnenshuise omgewings. Die konsep van “alternatief ” het ’n kenmerk geword van die populêre kultuur tydens die 70s, insluitend alternatiewe genesing, alternatiewe oefenmetodes soos joga en Oosterse filosofieë. ’n Groot alternatiewe siening in daardie tyd was dié van gelyke regte en ’n wegbeweeg van geslagstereotipering.
VROUE EIS GELYKHEID
Die vrouebevrydingsbeweging was die hoogtepunt van dekades se stryd. Vanaf die begin van die 20ste eeu was die ontevredenheid met geslagsrolle en klassifisering ’n doring in die vlees van baie vroue. Die beweging het in die 1970s op straatbetogings uitgeloop wat gelykheid vir vroue geëis het. Gloria Steinem, ’n sleutelfiguur in die Beweging, het gesê die Vrouevryheidsbeweging sal ’n voordeel inhou vir die samelewing as die geslagsrol-stereotipering en verwagtings verwyder word. Die beeld van die vrou het van die 1960s se huisvrou verander na ’n werkende professionele persoon as gelyke lid van die samelewing in die 1970s. Dit het ’n geweldige impak op die populêre mode en reklame gedurende die dekade gehad.
’N BEGIN VAN WÊRELDWYE BEWUSSYN VAN OMGEWINGSKWESSIES
Nog ’n groot verandering in tradisionele sieninge is gevorm deur die Verenigde Nasies se Konferensie oor die Omgewing wat in 1972 in Stockholm gehou is. Die konferensie is deur verteenwoordigers van 113 lande bygewoon en word deur baie mense gesien as die begin van wêreldwye bewuswording van omgewingskwessies. Die konferensie het ook gelei tot die totstandkoming van die Verklaring van die Verenigde Nasies se Konferensie oor die Omgewing – ’n dokument wat die basiese beginsels rakende die omgewing en menslike aktiwiteite beskryf. Ingesluit in hierdie verklaring is ’n aantal beginsels soos: Die mens het die fundamentele reg op vryheid, gelykheid en toereikende lewensomstandighede in ’n omgewing van ’n kwaliteit wat ’n lewe van waardigheid en welsyn toelaat, en hy dra ’n plegtige verantwoordelikheid om die omgewing vir die huidige en toekomstige geslagte te beskerm en te verbeter (1ste beginsel). Hierdie gebeure, saam met talle ander, het ’n verbruikerskultuur geskep wat meer omgewingsbewus was, veral onder die jeug.