Hierdie projek neem die kern van Bauhaus en pas dit binne ’n eietydse konteks, funksie en omgewing toe. Deur te kyk hoe argitektuur ’n groot rol in die Bauhaus gespeel het, gaan ons hierdie omgewing vir die volgende projek gebruik.
Gebruik die basiese beginsels en benadering wat die Bauhaus-beweging gekenmerk het en ontwerp ’n “rigtingwysstelsel” (wayfinding system) vir ’n gebou in jou omgewing.
Maar wat is ’n rigtingwysstelsel? David Gibson sê in sy “The Wayfinding Handbook - Information design for public places” die volgende: Waar is ek?” Wat kan ek hier doen? Waarheen kan ek hiervandaan gaan? Hoe kom ek hier weg? Of ons daarvan bewus is of nie, ons vra elke dag sulke vrae as ons onsself na en van die plekke en ruimtes in ons lewe moet navigeer. Of ons onsself nou in ’n museum, hospitaal, lughawe, winkelsentrum of straat in ’n onbekende stad bevind, ons maak staat op stelsels van visuele, hoorbare, duidelike en taktiele seine om nie slegs die pad aan te dui nie, maar ons ook veilig te hou. Dit is ook die noodsaaklike vrae wat ’n mens vra om jou pad te kry. Hierdie proses omvat die ervaring van die keuse vir ’n pad binne ’n beboude omgewing, asook van die hele stel ontwerpelemente wat ons help om sulke keuses te maak.
Meer oor grafiese rigtingwysers
Daar is vier hoofkategorieë van grafiese rigtingwyselemente: • Oriëntering – Waar is ek? • Inligting oor rigting – Hoe kan ek van hier af kom waar ek wil wees? • Identifiseer bestemming – Waar wil ek wees? • Identifiseer die situasie en voorwerpe – uitgange, ingange, vullisblikke, ens.
Grafiese inligting is die algemeenste en maklikste manier vir mense om hulle pad in ruimtes en omgewings te vind. Tipiese grafiese rigtingwysinligting sluit in stelsels wat uit kombinasies van teks, piktogramme, kaarte, foto’s, modelle en diagramme bestaan. Besoekers neem hierdie stelsels waar, lees, leer en verstaan dit namate hulle hulle pad deur ’n gebou navigeer – selfs al is dit in ’n taal wat hulle nie verstaan nie! ’n Mens kan dus in werklikheid grafiese inligting of inligtingsontwerp ’n universele taal noem wat regoor verskillende taalgrense en geletterdheidsvlakke verstaan word. Dit is hierdie eienskap wat grafiese ontwerp so kragtig maak. Ons gaan vir hierdie oefening nie ikone, kaarte, piktogramme of ontwerpe gebruik nie, maar slegs tipografie. Die styl van tipografie wat ons wil hê jy moet gebruik, moet die filosofie van die Bauhaus weerspieël – geen versierings nie. Die noodsaaklike basiese elemente en vereenvoudigde tipografie kan baie goed gebruik word vir stelsels om ’n rigting aan te dui. Die noodsaaklikste basiese elemente maak naamborde makliker om te lees en te verstaan.