Laastens, lees asseblief hierdie vertaalde aanhaling uit David Berman se boek Do Good Design. Hy noem dit: Koopwenke vir bewerkers van sosiale verandering.
“Kry vir jou ’n persoonlike missie. Dink weer. Weet wat jy nodig het en soek dan produkte wat lank sal hou. Dring aan op voorwerpe wat ontwerp is om te hou. Vermy weggooibare items. Dra een goeie pen by jou. Gebruik jou eie inkopiesak. Wees tevrede met jou hare soos dit is. Gee meer dikwels idees as geskenke weg. Eet minder gemors. Eet minder diere. Vermy gebottelde water. Soek eenvoudige vermaak. Geniet die lewe. Onthou dat jy reeds pragtig is (en omhels diegene wat dit vir jou vertel). Vermy modetydskrifte; die mode is ’n rebellie sonder tande en ’n swak plaasvervanger. Soek eenvoudige vermaak. Moenie jou motor laat luier nie. As julle nie ’n demokrasie het nie, baklei daarvoor. As julle wel ’n demokrasie het, baklei om dit te behou. Stem dan vir beleidmakers wat wette sal maak wat visuele leuens beheer en produkte reguleer wat drome steel. Gooi oortollige goed uit jou lewe uit en kyk hoeveel ligter jy voel. Beplan beter sodat jy beter kan verbruik. Weerstaan al die boodskappe wat jou wil oortuig dat jy moet verbruik om goed te voel. As koop jou stokperdjie is, soek ’n meer volhoubare een. As koop jou gewoonte is, vind uit hoekom. Vermy produkte wat van PVC gemaak is – dis die gevaarlike afval van die vertoonbedryf. Koop produkte wat die waarheid praat. Weerstaan ontwerpersprodukte tensy jy die waarde kan sien wat die ontwerper bygedra het. Moenie jou deur visuele leuens laat manipuleer nie. Moenie te gemaklik raak nie. Wees wakker. Eis die waarheid. Deel jou waarheid. Praat wanneer jy visuele leuens sien. Lei deur jou voorbeeld. Leer dit. Leef dit. Deel dit. Ontwerp jou beter toekoms en help ons dan om ons s’n te ontwerp.”
Wees wakker, voed jouself op en doen wat ontwerpers die beste doen, naamlik om probleme op te los.
AKTIWITEIT 2
Jy weet nou watter probleme hiperverbruikersbewustheid, ondeurdagte produksie en die weggooikultuur veroorsaak het. As jong verbruiker en deel van die nuwe geslag kreatiewe denkers wat ons van ons verlede gaan red, wil ons hê dat jy vyf praktiese dinge moet neerskryf wat jy as individu op hierdie oomblik kan doen om ’n verskil te maak.
Wanneer jy dit neergeskryf het, wil ons graag hê dat jy dit sien as ’n belofte wat jy wil nakom. Dit kan en sal ’n verskil maak!