Wou jy al jou hare uit jou kop trek omdat jy nie die regte lemmetjies vir jou duur skeermes in die hande kon kry nie? Wat maak jy met penne wat nie meer wil skryf nie, of jou tandeborsel waarvan die hare begin uitval?
Dink jy dit het dalk met die ontwerp van hierdie artikels te doen? Hou aan dink. Ons praat weer ’n bietjie later hieroor.
Ons het tot nou toe baie dinge oor ontwerp bespreek – beginsels en ontwerpelemente, invloede en inspirasie. Jy weet teen hierdie tyd hoe om basiese ontwerpe te doen en waarom jy sekere belangrike ontwerpbesluite neem, en ook hoe belangrik en toepaslik dit is om die geskiedkundige konteks van bewegings en style te verstaan.
Ons kyk nou na ernstiger dinge wat jy oor ontwerp moet weet en hoe ons as verbruikers EN ontwerpers ’n verskil kan maak. Ons het vroeër kwessies bespreek soos hoe die ontwerpbesluite wat jy as ontwerper maak, die maatskaplike en omgewingsimpak van jou ontwerpe kan beïnvloed. Ons het met ander woorde bewus geword van die domino-effek van alles wat ons doen. ’n Holistiese denker het ’n sterk insig en hierdie vermoë kan jou goed te pas kom wanneer dit kom by die ontwerp van innoverende produkte en stelsels wat werklik ’n verskil kan maak. Ons as verbruikers kan regtig ’n verskil maak en baie tot die ontwikkeling van ’n meer volhoubare toekoms bydra as ons meer bewus word dat elke besluit wat ons neem, ’n kettingreaksie aan die gang sit, en ons kan dan ons gedrag daarvolgens aanpas.