Jy moet altyd alles finaal afrond, maak nie saak waarmee jy werk nie!
Wat volg is ’n poskaart reeks (bl. 255 – 256) wat nie slegs vir jou meer idees gee oor hoe om jou karakters vir jou papierteater saam te stel nie, maar ons wil hierdie poskaartreeks en die ander karakters as voorbeelde van produkte gebruik wat werklik in daardie tyd in die mode was, natuurlik vir ’n spesifieke teikenmark. Ons weet dat dit binne jou konteks dalk ’n baie vreemde tendens en soort besigheid is, maar in daardie tyd was hierdie produkte versamelaarsitems.
Jy weet teen hierdie tyd dat elke era sy unieke eienskappe, hoogtepunte en laagtepunte het en binne die konteks van die versameling van kennis is dit altyd goed om iets van die verlede te leer. Om ’n geslaagde en begeerde produk vir mense te skep, moet jy hulle voor- en afkeure verstaan sodat jy kan bepaal wat ’n nuwe gier kan begin en ’n vraag skep. Om die een of ander rede was hierdie reeks baie geslaagd – soveel so dat volwassenes dit versamel het! Kan jy jou verbeel dat jou ma en pa hierdie goed versamel? Dalk bietjie moeilik, en dalk vreemd, maar wonder jy wat hierdie produk so begeerlik gemaak het? Jy kan ’n paar leidrade kry as jy weer na die eienskappe van hierdie tyd kyk, veral na Charlie Chaplin (bl.256).
Ons is vandag deur onnodige maar begeerlike produkte omring. Jy sien dat die industriële revolusie verheerlik word as gevolg van die gebruik van die masjien, wat uiteindelik gelei het tot die ontwikkeling van talle ander filosofieë vir bewegings soos Art Deco, Bauhaus, De Stijl, Modernisme en Skandinawiese ontwerp, wat massaproduksie verheerlik het. Verbruikersbewustheid het al hoe magtiger geword. Niemand het werklik omgegee oor omgewingsvriendelike en volhoubare keuses nie. As hulle kon geld maak, wie gee om!
Hierdie poskaartreeks as versamelstukke is net nog ’n briljante voorbeeld van ’n produk wat niemand werklik nodig het nie – ontwerp slegs ter wille van ontwerp om geld te maak. Ons kan redeneer dat noodsaaklike produkte funksionele produkte moet wees, soos kombuis- en huistoebehore, mediese instrumente en vervoer, maar vandag moet dit nie nie meer gaan oor “waarom” ons iets ontwerp nie, maar ook “wat” en “hoe” ons ontwerp, vervaardig, versprei, gebruik en weggooi wanneer die produk sy lewensiklus voltooi het.
Ons erf ’n wêreld wat verslaaf geraak het aan die verbruik van enigiets en ’n planeet wat die gevolge daarvan dra.
Dis nie vandag goed genoeg om net geld te maak sonder om aan die impak te dink wat al ons keuses op mense en die planeet het nie.
Die samestelling van moderne verbruikersbewustheid moet verander, aangesien ons nie kan aanhou ontwerp net ter wille van ontwerp omdat ons wil geld maak nie. Dit is belangriker as ooit tevore om ook na die volle lewensiklus van ’n produk te kyk en na die algehele impak wat dit het – van die besonderhede van al die prosesse wat by die produksieproses, verspreiding en gebruik van ’n produk betrokke is, en die impak wat dit alles op die omgewing, mense en die ekonomie het. Ons noem dit sorg vir die driedubbele kernsaak – mense, planeet en ekonomie.