Die fotomontages hierbo is deur Hannah Höch gedoen
Om fotomontages te laat slaag, word die volgende stappe aanbeveel:
1 Soek ’n A3-rugkant waarop jy die fotomontage kan plak. Jou materiaal vir die rugkant of steun kan enigiets wees van gebruikte spaanderbord, karton of enige dik papier of bokse. Onthou net dat wat jy ook al as rugkant kies, dit by die grisaille- (monochrome tekenwerk) en sepia-kleurskema moet pas! Jy kan dus nie ’n skelpienk- of neonkleur- rugkant kies nie. Dit sal ook nie van pas wees vir hierdie monotone ontwerp nie.
2 Maak ten minste TWEE swart-en-wit-fotokopieë van elke tekening wat jy in die fotomontage gaan gebruik. Maak asseblief seker dat die kopieë van ’n goeie gehalte is. Jy kan ook enige deurslagpapier of natrekpapier gebruik om jou tekeninge te verdubbel.
3 Kies jou tekeninge sorgvuldig. Oorweeg dit ook om van die beelde te vergroot of te verklein. Onthou asseblief om al die toepaslike inligting op die plakkaat in te sluit, byvoorbeeld die tema of titel, die plek, die datum en tyd, die prys van die kaartjies en waar om die kaartjies vir die vertoning of uitstalling te koop. Jy moet hiervoor ’n toepaslike letterbeeld kry wat die styl weerspieël van die beweging wat jy gaan gebruik.
4 Wees kreatief met jou tekeninge. Die getekende prente kan óf geknip óf geskeur word. Dit sal die gebruik van sagte en harde rande in die fotomontage verseker wat grootliks tot interessante kontraste en teksture kan bydra. Prente kan ook oorvleuel. Dit is ook raadsaam om na die positief sowel as die negatief van die prent te kyk. Kan jy nog uit jou Graad 10-handboek onthou wat negatiewe en positiewe vorms is? Terwyl jy die prente uitknip, moenie die res van die knipsels weggooi nie. Jy kan dalk op ’n stadium selfs oorweeg om die uitgeknipte agtergrond (negatiewe beeld) wat die vorm van die beeld is wat jy oorspronklik as die werklike beeld uitgeknip het, te gebruik. Oorweeg net al jou moontlikhede! Daar is geen reëls vir die gebruik van die fotomontage-tegniek nie en jy sal slegs die beste opsies kry as jy baie verskillende dinge uittoets.