Hierdie aktiwiteit sal vir jou bekend lyk en selfs al het jy dit reeds in graad 10 gedoen, onthou dat jou vaardighede sedertdien baie verbeter het. Hierdie aktiwiteit is ’n wonderlike oefening om daardie vaardighede selfs nog meer uit te bou.
Neem ’n vel A4-papier en vou dit in agt ewe groot blokkies. Vou die A4-papier oop. Plaas nou die papier oor ’n tekstuur en vryf ’n potlood oor die tekstuur. Eksperimenteer met verskillende tipes potlode soos HB-, 2B-, 4B- of 6B-potlode. Al die verskillende potlode sal vir jou verskillende resultate gee. Maak seker dat jy probeer om soveel as moontlik verskillende teksture te kry en gebruik elke blokkie vir ’n ander tekstuur. ’n Donkerder potlood soos ’n 4B of 6B sal die beste werk. Die uitdaging is om te sien of jy jou klasmaats kan troef met die uniekheid van jou keuse! Wees kreatief en gryp die uitdaging aan!
Moenie vergeet dat hierdie tegniek wat gebruik word om die tekstuurgehalte van ’n oppervlak te reproduseer of te kopieer “frottage”, ook bekend as vryfwerk, genoem word nie.
DEEL2
Neem nou ’n tweede vel A4-papier en trek agt ewe groot blokkies en kopieer elke tekstuur van die eerste oefening in ’n blokkie. Jy mag slegs ’n potlood gebruik om die teksture oor te teken.
Hierdie aktiwiteit sal jou baie help met jou voorbereiding vir die volgende twee aktiwiteite, aangesien jy nie slegs eksperimenteer met jou vermoëns om verskillende tekeninstrumente te gebruik nie, maar jy manipuleer en gebruik die instrumente tot hulle uiterstes om uit te vind wat hulle kan doen en nie kan doen nie. Hierdie vermoëns sal handig te pas kom wanneer jy gevra word om vir die volgende aktiwiteite verder te eksperimenteer.
12 PROJEK Bemeester die gebruik van ontwerp elemente
Om die gebruik van die ontwerpelemente en -beginsels met welslae te bemeester, is ’n redelike prestasie. Jou konseptuele en probleemoplossingsvaardighede word op die proef gestel. Kom ons toets jou bekwaamheid op hierdie gebied. Hierdie aktiwiteit daag ook jou vermoë uit om te waag en te eksperimenteer met wat jy byderhand het. Om die ontwerpbeginsels met welslae te gebruik, kan tot ’n komposisie of eindproduk lei wat ’n visuele beeld vertoon of simboliseer wat ’n sekere gevoel en boodskap oordra, byvoorbeeld: