MODES VAN DIE 80S Populêre modes van die 1980s het ’n aantal herlewings in die 1990s en 2000s gehad, óf as enkel-items of in volledige uitrustings. Skouerkussings, oorgroot snyersbaadjies, steengewaste jeans, beenverwarmers, skouerlose rokke en hemde asook gewaagde klere is alles kenmerkend van die 80s se modes, wat as ’n eklektiese styl beskryf kan word. Kleure was sterk, helder en neon, dikwels saam met diere- of ander motiewe. Ander elemente van populêre kultuur in die 1980s het die vlieënierstyl-sonbril ingesluit, wat byvoorbeeld in flieks soos Top Gun en An officer and a gentlemen gedra is, kopbande, beenverwarmers, jellieskoene (plastiek) en Swatch- horlosies.
Verskillende Swatch-horlosieontwerpe uit die 1980s
PRODUKONTWERP VAN DIE 80S Ontwerp gedurende die 1980s het eklektiese elemente gehad en helder, sterk kleure gebruik. Die postmoderne ontwerpe wat gedurende die 80s geproduseer is, verteenwoordig die verwerping van funksionalistiese modernistiese style en produkte. Postmodernisme het die uitdrukking van die sosiale en omgewingsonstabiliteit van die 70s geword . Eerder as om op moderne, amper futuristiese ontwerpkonsepte te fokus wat gedurende die 1960s gewild was, kry postmoderne ontwerp hulle inspirasie uit die verlede. Postmoderne ontwerp was nie gebaseer op funksionele beginsels nie, maar eerder op pret, betekenisvolle en speelse elemente van die ontwerp. Hierdie kwaliteit van postmoderne ontwerp is nie gedeel met die Oosterse ontwerpe van die 1980s nie. In Japan het tegnologie en industriële produksiemetodes die basis van ontwerp gevorm.
Die Carlton-kamerverdeler deur die postmoderne ontwerper Ettore Sottsass is in 1981 ontwerp.
Dit gaan op die ou einde altyd oor begrip vir mense
Om populêre kultuur te verstaan, is om die era onder bespreking en die mense wat in daardie tyd geleef het, te verstaan. Populêre kultuur is die algemene samestelling van ons visuele kultuur, insluitend modes, produkte, grafika en omgewingsontwerp. Dit maak staat op die massamedia om ’n idee of produk wêreldwyd bekend te maak. Ons visuele kultuur is op sy beurt in ons sosiale, ekonomiese, omgewings- en politieke situasie gegrond. Dit is belangrik om die ekonomiese implikasies van populêre kultuur te onthou, asook die skakel tussen verbruikersbewustheid en populêre kultuur. ’n Produk word nie gewild as dit nie vir ’n doel beskikbaar raak nie. Die Star Wars-franchise wat in die 1970s begin het, is byvoorbeeld nie slegs op die flieks gebaseer nie. Hierdie franchise bestaan uit ’n versameling handelsware soos bekers, boeke, DVD’s, speletjies, figuurtjies, feeste en vele meer handelsitems wat die konsep help versprei en versterk het en dus die gewildheid daarvan verhoog het. Populariteit is egter wisselvallig. Een van die bepalende aspekte van populêre kultuur is dat nie staties is nie. Ons as mense soek altyd nuwe dinge of moderne weergawes van die ou dinge waarvan ons hou. Die wêreld om ons is gevul met verandering en ongekende keuses wat werklik die populêre kultuur aan die gang hou. Jy sal waarskynlik nie dood gesien wil word in ’n uitrusting van die 1940s nie, maar wie weet, oor ’n paar maande of jaar is dit dalk die nuwe gier en sal jy jou haas om jou 40s-styl uitrusting te kry. Dit is noodsaaklik dat julle as ontwerpers besef hoe populêre kultuur gevorm word en verstaan hoe populêre kultuur konsepte kan verander en hernuwe. As jy ’n duidelike begrip van jou eie populêre kultuur kan ontwikkel, kan jy vorentoe kyk en toekomstige tendense ontleed en seker maak dat jou produk relevant en toepaslik, en ’n baanbreker op sy gebied is.