Moenie vergeet om jou papierteater ’n naam te gee nie. Wanneer jy ’n font vir hierdie naam kies, gebruik ’n font wat tipies is van die styl waarmee jy gaan werk, byvoorbeeld Art Deco, Bauhaus, ens.
Hier volg ’n paar wenke en voorstelle vir die bou van ’n klein papierteater. Die volgende besluite is noodsaaklik om ’n geslaagde eindresultaat te verseker!
Grootte en skaal ’n Hanteerbare grootte sou wees: Breedte (30 cm) × hoogte (25 cm) × diepte (15 cm - 20 cm). Moet dit nie te groot maak nie, aangesien hierdie papierteaters arbeidsintensief is. Werk met ’n skaal van 1:2 .
Basiese gereedskap Voordat ons enige modelle begin bou, is die eerste item wat aandag moet kry ’n werkarea en basiese gereedskap. ’n Klein stuk plank effens groter as die snymat sal voldoende wees as werkstasie en dit sal beteken dat die “werkstasie” maklik vervoer kan word as jy nie ’n toegewysde werkstasie het nie en jy op die vloer of kombuistafel moet werk. ’n Toegewysde vertrek met ’n werkarea is egter beter as jy gelukkig genoeg is om een te hê. ’n Ander moontlikheid is om enige plat en stewige oppervlak, byvoorbeeld Masonite of spaanderbord, te gebruik. Die snywerk kan dan op hierdie oppervlak gedoen word as jy nie ’n snymat het nie.
Noodsaaklike gereedskap Waterbasis-vernis, Pritt of Bostic se kleurlose gom, ’n NT-snyer of teëlmessie, 30 cm – 60 cm-staalliniaal, HB-potlood, uitveër, swart viltpen wat permanent of waterbestand is, ’n skêr, haartangetjie, tandestokkies of sosatiestokkies, ’n stel waterbasis-viltpenne, ’n stel waterverwe en ’n stel kleurpotlode. Jy kan ook enige voorwerp met ’n reguit kant gebruik in plaas van ’n staalliniaal, byvoorbeeld afvalstukke Perspex of aluminium. As jy nie kleurpotlode het nie, kan jy vir jou onderwyser vir gewone gekleurde bordkryt vra. Jy kan dit tot ’n fyn poeier maal, met ’n bietjie water meng en met jou eie mengsel verf. As jy suiker byvoeg, sal dit die verf meer permanent maak!
Boumateriale benodig Ons stel voor dat jy vir die vloer van die teater hardebord of balsahout gebruik – materiale wat nie te swaar is nie, maar wel sterk. Jy kan ook balsahout of houtsparre gebruik vir die dakstruktuur waaraan die steunmure en agterdoek vasgemaak moet word. Ons stel voor dat jy dik monteerplank, karton of spaanderbord vir die verskillende steunmure gebruik. Jy kan ook die laagvormingstegniek met karton waarvan jy in Module 1 geleer het, gebruik om jou eie stutmure, basis, ens. mee te maak.
As jy nie enige dik monteerbord het nie, gebruik die agterkante van ontbytgraankosbokse. Dit is belangrik dat die steunstruktuur redelik sterk moet wees om te voorkom dat die teater onvas is. Soos met die karton, sal die graankosbokse ook gelaag moet word om dit sterker te maak.