Die Bauhaus beklee ’n spesiale plek in die geskiedenis van die 20ste-eeuse kultuur, argitektuur, ontwerp en kuns. Dit was een van die eerste ontwerpskole en het ’n aantal van die uitsonderlikste argitekte en kunstenaars van daardie tyd byeengebring. Hierdie beweging het ’n betekenisvolle invloed en impak op ontwerp wat ’n betekenis gehad het vir ’n filosofie wat talle ontwerpers steeds vandag toepas, gehad.
Die Bauhaus het in 1919 na die Eerste Wêreldoorlog in die stad, Weimar, in Duitsland tot stand gekom met die Duitse argitek, Walter Gropius, (1883–1969) as die eerste direkteur. Die masjieneeu was reeds aan die gang en het die pad gebaan vir die tyd van die modernisme. Dit was nie slegs ’n baanbrekersopleidingsentrum nie, maar ook ’n plek van produksie. Hulle oogmerk was om alle kuns en handwerk as ’n funksionele geheel saam te bind. Die idee om ’n basiese ontwerp as ’n wetenskaplike metode in kuns toe te pas, is ontwikkel. Kunsprodukte kon in hulle mees basiese elemente afgebreek word: ’n kubus, sfeer en silinder.
Hulle het probeer om oplossings te kry vir die probleme wat die werkersklas gedurende die depressiejare in Duitsland na die Eerste Wêreldoorlog ervaar het. Hulle bekommernisse het stedelike beplanning, behuising en die ontwikkeling van hoë gehalte massaproduksie van nuttige verbruikersgoedere ingesluit.
Hulle wou vir kunstenaars ’n betekenisvolle en praktiese plek in die samelewing gee deur hulle toe te laat om met vorm, kleur en materiale te eksperimenteer, asook om opleiding as vakmanne en industriële ontwerpers te ontvang. Hulle het probeer om ’n oplossing te vind om die moderniseringsproses deur middel van ontwerp te bemeester en het probeer om die maatskaplike probleme in ’n stedelike konteks op te los. Dit is steeds al die metodologieë wat ons vandag gebruik om probleme van die moderne tyd op te los. Die denkprosesse agter die Bauhaus-beweging was die tyd ver vooruit en het ook getoon dat dit tydloos is, aangesien ons dit steeds vandag op ’n daaglikse basis baie gebruik en toepas.
Walter Gropius het sy visie vir die vereniging van kuns en ontwerp in die Proklamasie van die Bauhaus (1919) verduidelik. Hy wou die breuk tussen kuns en produksie omkeer deur terug te keer na die ambagskuns as basis van alle kunsaktiwiteit. Gropius het ’n ambagsgebaseerde kurrikulum ontwikkel wat ambagsmanne en ontwerpers sou lewer wat in staat was om nuttige en mooi voorwerpe te skep wat toepaslik sou wees vir die nuwe lewenstelsel. As gevolg van ’n gebrek aan fondse en die veranderende politieke toneel moes die Bauhaus verskeie keer trek – eers van Weimar na Dessau en uiteindelik na Berlyn.
Gropius het in Dessau ’n nuwe Bauhaus-skool ontwerp. Die styl is later as kenmerkend van modernistiese argitektuur aanvaar. Hierdie Bauhaus-gebou het talle kenmerke soos:
• Die insluiting van ’n staalraamkonstruksie. • ’n Glasgordynmuur. • Gewapende beton. • ’n Asimmetriese windmeulplan. • Gropius het regdeur hierdie plan ateljees, klaskamers en administratiewe ruimte vir maksimum doeltreffendheid en ruimtelike logika versprei.
• Die skoon lyne, “gordynmure” in geboue, gewapende beton en kubusvormige strukture is later in modernistiese bewegings nageboots.
• Gebruik van voorafvervaardigde eenhede in bouwerk en skuifbare binnemure is gebruik.
• Komponente is masjiengemaak. • Hulle het in ’n suiwer vorm geglo.