gedurende die 1920s en 1930s het die nazi-party in Duitsland onder Adolf Hitler die swastika as die simbool van die party aanvaar. Die betekenis van die simbool is verwring en baie mense assosieer die simbool nou met die bose dade van die Nazi-party.
Die Nazi-party het die simbool in 1920 aanvaar en in die 1930s, nadat Adolf Hitler die mag oorgeneem het, is die simbool in die Nazi-vlag geïntegreer. Op die hoogtepunt van die Nazi- oorheersing het die simbool die ikoon van veronderstelde Ariese oppermagtigheid en die antisemitiese houding van die regerende party geword. Die swastika is gebruik op uniforms, armbande en vlae, asook op baniere wat by politieke veldtogte en parades gebruik sou word. Hitler het die mag van herkenbare ikone, media en vertoning verstaan. Hy het in 1933 vir Joseph Goebbels in die Ministerie vir Openbare Inligting en Propaganda aangestel. Die ministerie het die taak gehad om seker te maak dat alle kommunikasie, openbare uitsendings, visuele elemente (soos pamflette en plakkate) en openbare vertonings (soos die groot militêre parades) die “korrekte” boodskap oordra. Die boodskappe is deur die Nazi-party ontwerp en beheer. Hierdie beheer oor inligting en dat slegs geselekteerde en goedgekeurde boodskappe toegelaat is, word propaganda genoem. Propaganda is die sleutelelement van kommunikasie in tye van konflik. In werklikheid gebruik enige persoon of groep mense wat ander wil oortuig dat hulle sienings korrek is, en wat bereid is om inligting te beheer en selfs te wysig om dit te verseker, propaganda . Inligting wat deur propaganda verskaf word, leun gewoonlik ongelooflik oor na en ondersteun die groep wat dit geproduseer het.
Die gebruik van die swastika met betrekking tot Nazi-aktiwiteite is na die Tweede Wêreldoorlog verban. Daar is egter steeds vandag mense wat negatiewe sienings oor die gebruik van hierdie simbool het. Daar is ook groepe soos die Neo-Nazi-groepe in Amerika en Europa wat besluit het om die simbool nog steeds as ikoon vir rasse-meerderwaardigheid en kulturele superioriteit te gebruik.