Die naam Art Nouveau is in 1895 oorgeneem van ’n winkel wat deur die kunshandelaar Samuel Bing in Parys oopgemaak is. Samuel Bing het kuns en voorwerpe in hierdie nuwe styl uitgestal. Die styl het in België en Frankryk ontstaan.
Dit was ’n romantiese en hoogs dekoratiewe styl wat in Europa en Amerika aangetref is. Dit het ontwikkel uit die Britse Kuns- en Handwerkbeweging van Morris, en was ook teen die onverfynde massageproduseerde artikels van die laat 19de eeu gekant. Hulle wou die ontwerp van gebruiksvoorwerpe beïnvloed en ’n sterk stempel op binnenshuise versiering afdruk. Hierdie beweging kan gesien word as ’n brug tussen die eklektisisme van die 19de eeu (’n mengsel van gekopieerde style) en die moderne bewegings.
Hierdie beweging bepleit dat die natuur die ware bron van alle goeie ontwerp is. Hulle verskil van die Kuns- en Kultuurbeweging daarin dat hulle produkte oorversier en weelderig was. Kortom, hulle het soms heeltemal oorboord gegaan met versierings.
Hierdie styl is aangebring op die oppervlakke van talle produkte wat gewissel het van geboue, plakkate, produkte vir die huis, muurpapier en tekstielware. ’n Belangrike eienskap was die gebruik van draaiende, gekrulde lyne wat golwende en inmekaargeweefde patrone soos dié van wingerdstokke gevorm het. Dit word dikwels ’n “sweepslag”-lyn genoem. Voorwerpe is ryklik en ornamenteel versier. *Dit was nie ’n eenvormige styl nie.
? Invloede
Alphonse Mucha het ’n groot invloed uitgeoefen, veral met sy plakkaatstyl en sy uitbeelding van die vroulike figuur en vorms wat die bolyf omraam het.
Hulle is ook deur die natuur geïnspireer en veral deur die kronkelende lyne wat in rankplante aangetref word. Jy sien in die bygaande voorbeeld hierbo teëls met tipiese slingerende plante en kronkelende lyne.
Japannese kuns, wat ook daardie tyd in die mode was, het hulle geïnspireer, veral die plat vorms met kleure wat in die voorbeeld van ’n houtblokafdruk uit Japan gesien kan word.
Die kunstenaar, Gustav Klimt, was nog ’n groot invloed met sy wonderlike gebruik van dekoratiewe patrone, soos in die bygaande werk, “Die Boom van die Lewe”, wat op die volgende bladsy gesien kan word.
HETJYGEWEETdat twee style ontwikkel het? • Reghoekige styl in Brittanje en Germaanse lande • Flambojante styl in Parys.
Dit was gewild in Europa, maar nie so veel in Brittanje nie, aangesien hulle Morris se Kuns en Handwerk-ideale gevolg het. ’n Bekende ontwerper was Mackintosh, wat van vereenvoudigde vorms gebruik gemaak het. Nouveau-ontwerpers het beswaar aangeteken teen die leen van idees uit die verlede, en selfs uit ander kulture, alhoewel die Japannese benadering tot die natuur baie bewonder en nageboots is. Dit kan veral gesien word in die plakkate van daardie tyd. Verwys ook asseblief in jou verwysings na die volgende voorbeelde van invloede: